HEBRONHUIS VIR HAWELOSES | |
  |
Die Here is goed vir ons! Die eerste gebou is voltooi, gemeubileer en het ook reeds matte en gordyne. Die tweede gebou se buitemure, vensters en deurkosyne is klaar en ons hoop om die dak binnekort te voltooi. Ons is tans besig met ‘n reuse rioolstelsel wat uiteindelik deur 350-400 mense gebruik sal word. Die gemeenskap is baie behulpsaam en ons kry meubels, klere en bruikbare artikels waarvoor ons innig dankbaar is. Ons het ondertussen ‘n maatskappy gestig en geregistreer. Op die foto hieronder is die persone wat sleutelrolle beklee in die ontwikkeling van Hebron. Ons innige dank aan die Here en betrokkenes vir tjeks van R4 000, R20 000 en R12 000. Ook aan Viv Petersen vir sy bemiddeling om die groot houer (“container”) as geskenk hier te laat aflewer. Ons kan al ons gereedskap, sement, ens. daarin berg. Mag God elke donateur ryklik seën. Verder het ons ook 7 manne wat voltyds hier werksaam is. Huidige behoeftes: Enkelbed-matrasse, komberse, hangkaste, yskas, ‘n groot gassilinder, kombuis- en kantoor-benodigdhede, oorskietteëls en tapyt. Klein tot medium mansklere, skoene, veral werk-tekkies en tuingereedskap. ‘n Ondergrondse tenk of 2 plastiek 5 000 liter watertenks met pompie om waswater op te vang vir hergebruik op grasperke. Ook stukkende radio’s, elektriese toestelle, ‘n “grinder” of boor wat ons manne kan herstel vir gebruik. Dankie dat u vir ons bid sodat die Here ons sal bekragtig om hierdie Sentrum te voltooi en dat Hy in al ons behoeftes sal voorsien. U is baie welkom om Hebron te kom besigtig. Gretha le Roux (018) 290 1802 of 082 607 7198 ABSA Rek. Hebronhuis 4054066149. Getuienis: Ek, Fred, het uiteindelik gevind waarna ek 13 jaar lank gesoek het! Na die skielike dood van my vrou en enigste seun het ek ‘n volslae alkoholis geword. Hoewel ek die Here gesoek het in verskillende kerke, kon ek Hom nie vind nie. Daar was altyd ‘n hoë muur tussen my en Hom. Ek kon nie oor daardie muur klim nie! Op aandrang van my ander kinders is ek verlede jaar vir 4 maande na ‘n Sentrum vir Drank-verslaafdes. Dit het vir my baie beteken en ek het “droog” daar uitgekom, maar was steeds soekende na God. Dit is nou reeds 11 maande dat ek hier by mev. Le Roux-hulle woon en help bou aan Hebronhuis vir Haweloses. Sy het baie met my gepraat en ge-nooi om ‘n kursus van TOUCHING HEARTS by te woon wat hier op die plaas aan-gebied is. Ek was eers sku, maar het tog gegaan en op die derde dag ingestem dat Caroline Thorpe vir my bid. Terwyl sy besig was om vir my te bid en Satan te bestraf, het iets wonderliks gebeur! Skielik sien ek die muur is weg en Jesus wink my nader! Aan die regterkant het ek Satan sien staan. Ek het skielik besef dat die “muur” tussen my en die Here die afgelope 13 jaar in werklikheid die duiwel was! Ek was oorstelp van vreugde! Nou het ek God uiteindelik gevind! Caroline het my gedoop en die Here het my verlos van rook en vrymesselaars waaraan ek 33 jaar lank behoort het. Ek gee Hom al die eer! Fred is die afgelope 11 maande by ons werksaam en ek kan getuig van die egtheid van sy getuienis en die verandering in sy lewe. Gretha le Roux (018) 290 1802 of 082 607 7198. (Geborg deur WPK) |