WAAR LIEFDE IS, IS GOD | |
  |
(Na 'n verhaal van Leo Tolstoi) In 'n kelderkamertjie onder straatvlak het Martin Avedéitsch skoene gemaak. Dag vir dag het hy oor sy lees gebuk gesit, en wanneer hy 'n keer opkyk, kon hy deur die smal venstertjie bo sy kop net die voete uitmaak van die mense wat op straatvlak verbygeloop het. Die meeste van daardie skoene het hy self gemaak. Martin was 'n eensame man. In sy armoede moes hy so hard werk dat hy skaars tyd gehad het om met ander mense om te gaan. Sy enigste gespreksgenoot was God. Namate hy ouer geword het, het die verlange in sy hart gegroei om dié God tot Wie hy so baie gebid het, een keer van nader te leer ken. Toe droom hy een nag dat Christus aan Hom verskyn en sê: "Martin, hou môre die straat dop, want Ek gaan jou kom besoek." Die volgende dag was Martin gereed vir sy Besoeker. Vroeg reeds was sy koolsop, melkpap en broodjie gereed vir die belangrike Gas. Elke keer wanneer hy 'n onbekende paar skoene sien verbykom, het hy opgestaan om deur die smal venstertjie die gesig te probeer uitmaak. Hoe sou Hy lyk? Toe kies ou Stepánitch die straatveër om reg voor die venster te kom staan. Eintlik daarteen aan te leun. Want sy verskrompelde ou lyf was duidelik nie in staat om die sneeu weg te spit soos van hom verwag is nie. Ongeduldig, omdat sy Gas enige oomblik kon opdaag, klop Martin teen die ruit en nooi die ou man in om hom 'n bietjie te kom warm maak by die vuurherd. Een koppie tee het twee geword en later drie, want ou Stepánitch het lang stories gehad. Martin het maar geduldig geluister, maar elke keer skrams deur die venster geloer of Hy nog nie aankom nie. Later was Martin se suiker op, maar ou Stepánitch se gesels nog nie. Martin het geluister en ingesien dat die ou drommel maar net so eensaam was soos hy self. Toe die ou man uiteindelik vertrek, was Martin verbaas dat hy amper van sy Besoeker vergeet het. Skaars was hy weg of Martin sien hoe 'n skraal ou vroutjie met 'n huilende baba in haar arm teen die oorkantste muur gaan sit waar sy probeer om die kind teen die sneeuwind te beskerm. "Kom in," roep hy. "Dit is darem warmer hier by my vuurherd." Dankbaar maak die vrou haar tuis, maar die baba skreeu een stryk deur. "Is hy siek?" vra Martin. "Honger!" antwoord sy en kyk verlangend na die pappotjie wat op die vuur prut. Toe die vroutjie later loop, was die pap op en die baba stil. En Martin het 'n vriendin gemaak. Nou was dit al namiddag en steeds het die Here nie gekom nie. Sou hy wat Martin is Hom dalk verkeerd verstaan het? "Hou die straat dop; Ek gaan jou vandag kom besoek," het Hy tog gesê. Maar al wat dáár verbygaan, is die bekende skoene van Martin se klante. Tot sy verbasing kry Martin Avedéitsch vandag soveel mense dat hy skaars kan werk. Nou is dit weer 'n kaalvoetseuntjie wat by sy venster kom klop om ingelaat te word toe 'n klomp straatbullebakke hom agtervolg. Martin nooi hom dus maar in en vertel 'n paar stories om hom te kalmeer. En stop hom 'n bekertjie sop in die hand teen die koue. Nou is daar byna niks oor vir die hoë Gas nie! Teen donker gee Martin moed op dat die Here nog sal kom. Dit was, na alles, tog maar net 'n droom, dink hy. Hy pak sy werkgoed weg, steek die lamp op en haal sy Bybel uit. Dit val asof vanself oop by Matteus 25:35: "Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves. Ek was sonder klere, en julle het My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek… Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen." Toe verstaan Martin wat die Here bedoel het… [Uit: Stories vir die Lewe-Omnibus, Lux Verbi] Geborg: Lemon Blossom Guest House, Kerkstr. 4, Tel: (018) 297 1137, Sel: 082 856 2410. |