GLO ONS WERKLIK TE EENSYDIG? | |
  |
"Buiten Hom is daar niemand wat 'n mens kan red nie. En behalwe Jesus se Naam het God geen ander naam op aarde gegee waardeur mense gered kan word nie" (Handelinge 4:12). ‘n Mens hoor meermale die beswaar dat die evangelieboodskap darem te eksklusief is en alle ander godsdienste uitsluit. Is dit dan werklik nodig om die mens se verlossing te beperk tot net één moontlikheid? As dit net Christus is wat kan red deur Sy dood aan die kruis, is ons dan nie onregverdig teenoor miljoene mense op aarde nie? Sulke vrae word deur mense gevra wanneer hulle die Christelike geloof van engheid beskuldig. Maar hulle redenasie van "meer moontlikhede" is tog nie iets wat op ander gebiede oral uitwerk nie. As 'n boer byvoorbeeld 'n sekere soort aartappel plant, haal hy juis daardie soort uit die grond wanneer hy oes. As hy uie plant, weet hy ook presies wat die oes gaan wees. Dink net watter chaos daar in die landbou sou heers as daar een soort graan gesaai is, maar daar die moontlikheid is dat ons verskillende soorte graan sou kon oes. Bewerking van die grond sou dan so onseker wees dat niemand dit sou waag om sy lewe daaruit te maak nie! In die laboratorium werk 'n mens ook met net een moontlikheid op 'n keer. As 'n mens twee beson-dere chemikalieë by mekaar voeg, kan hulle nie vandag een verbinding vorm en môre 'n ander een nie. Dink maar net hoe gevaarlik dit sou wees in 'n fabriek waar plofstof vervaardig word as 'n mens nie vooraf kon weet presies hoe die verskillende stowwe onder sekere omstandighede reageer nie. Ons neem visse nie kwalik as hulle net in een element - water - lewe nie. Van voëls verwag ons ook nie dat hulle anders as deur die lug sal beweeg nie. Niemand sal hulle van engheid beskuldig nie! Die Skrif sê vir ons die pad wat na die Lewe lei, is smal. Maar tóg is daar plek vir ALMAL wat WIL kom om deur JESUS CHRISTUS gered te word. Daar is ruimte vir enige mens, ongeag sy taal, ras, opvoedingspeil of status in die lewe. As die Here se uitnodiging dan só wyd is dat dit enigiemand insluit, wat kon Hy meer gedoen het? Wie is ons dan om te praat van engheid? Die argument van "meer moontlikhede" kom van die Satan self! Die verlossing wat God vir ons deur Jesus Christus bewerk het, is 'n groot wonderwerk. Dink net watter verskriklike sonde 'n mens doen as jy sê dis nie goed genoeg nie! [Uit: Top of the Morning] |