TOE VAL DIE HELDE!
  Lees - 1 Samuel 31:1-13
“Toe het die Filistyne op Saul en sy seuns toegesak.” Soms bereik mense nie hulle volle potensiaal nie. 'n Belowende sportman sak skielik uit. 'n Opkomende sakeman misluk. 'n Goeie onderwyseres na wie almal opkyk, gooi op 'n dag handdoek in. Dan is almal teleurgesteld dat so baie potensiaal verlore geraak het. Baie mense in Israel het seker net so gevoel toe hulle eerste koning, Saul, tragies gesterf het. Hy het so baie potensiaal getoon; hy was slim, sterk, aantreklik en 'n goeie leier. Maar toe laat los Hy God se hand en begin sy eie plannetjies maak. Die uiteinde: 'n mislukte lewe! As Saul maar net sy lewe kon eindig soos hy dit begin het: 'n man so reg na die Here se hart. Maar toe het hy 'n vernederende dood gesterf...
Sy lyk is vermink en oral in die land van die Filistyne rondgestuur. Hoe tragies!
Bereik jy jou volle potensiaal? Benut jy al die gawes wat die Here aan jou gegee het? Dit is nog nie te laat om oor te begin nie. Met jou hand in dié van die Here, kan jy 'n man of vrou so reg na God se hart word. By die Here is altyd nog 'n tweede kans; nog 'n geleentheid om 'n sukses van jou lewe te maak!
GEBED: Christus, dankie dat U my sal lei om my Godgegewe potensiaal te bereik. Uit die Beek 2005 - Stephan Joubert (Lux Verbi-BM ).
Geborg deur: Lemon Blossom Gastehuis, Kerkstr. 4, Potch. Tel: (018) 297 1137 of Sel: 082 8033 872 (Magda).

Indeks     Index