KOM KUIER BY 'N KONINKRYKSPROJEK
 

Mercia van der Westhuizen

Twee half-verroeste swaaie staan neffens die eenvoudige kerk-gebou in Skierlik (Ext. 5) langs die Sarafina-pad. Dit is al speelgoed wat daar op die groot kerkterrein vir die kinders van die Geref. Kerk Ikageng-Bophirima Crèche is. Ds. Richard Ramalisa en sy vrou, Jeanet, het in Jan. 2005 in die geloof die Crèche op die been gebring. 'n Jaar later het hulle, met die hulp van hul eie kerkraad en die diakens van die Geref. Kerk, Potchefstroom-Noord (GKPN), al 'n bietjie meer toerusting om die kindertjies te leer, te laat speel en te voed.
Terwyl die kinders uit volle bors in die kerk staan en sing, timmer Manosi Tyamo pap en sjeba aanmekaar op die stoof in die kombuis. Tot kort gelede moes sy op haar knieë voor 'n tweeplaat ("hotplate") staan en kos maak vir die kinders. Hulle kry twee keer per dag kos en ook 'n middaghappie. Nou is die kombuis toegerus met 'n groot vierplaat-stoof, 'n yskas, kombuiskaste en 'n wasmasjien. 'n Stuk mat en 'n paar los sponskussings is tans die enigste slaapplek in die dag vir die bykans 80 kinders wat van 07:00 tot 16:00 by die Crèche bly.
Wanneer 'n projek van die diakens van die GKPN-gemeente in Feb. afgehandel is, sal daar 60 nuwe matrassies met kleurvolle slope vir elke kind wees om op te slaap.
Die kinders in die Crèche is van 9 maande tot 6 jaar oud en is nie net kerklidmate se kinders nie, maar kom uit die hele gemeen-skap. Daar is ook 10 VIGS-wesies. Benewens die hulp van Manosi, word Jeanet in haar taak bygestaan deur Tandiwe Mtshamba en Sana Takane.
Jeanet het 'n Diploma in Dagsorg en sou graag verdere Kleuter-sorgopleiding wou kry. Al die uitgawes - waaronder kos vir die kinders en die "salarisse" van die 4 vroue - word verkry uit die Crèche-geld. Dit beloop sowat R80 per kind per maand. Die Crèche ontvang tans geen subsidie nie.
Die binnenshuise onderrigleer vind in die kerkgebou plaas, maar die groot droom is om 'n gebou, wat spesifiek vir die Crèche bedoel is, elders op die terrein op te rig. Argiteksplanne hiervoor is reeds opgestel, maar om dit te bereik, gaan daar baie hulp nodig wees. Die liefdes-diens wat nodig is, is egter nie net materieel van aard nie. Die Here bied hier 'n geleentheid aan gelowiges om die hande van die Ramalisas te sterk om hierdie kindertjies aan die lewensveranderde liefde van God bloot te stel. Uit die Ramalisa-predikantspaar se getuienis is dit duidelik dat hulle die kinders in die geloof versorg, hulle met die Bybel laat kennis maak, en lei om Jesus Christus te leer ken en te loof met liedjies.
Shirley Wisner, rubriekskrywer van Evangelising Today's Child, het by geleentheid geskryf: "Any normal child knows right from wrong long before he is five. He learns very early that there are certain things he is not to do because they are wrong, and that if he does that, he will be punished. This same child can easily be taught that God calls such wrongdoing sin and that there is a remedy for sin".
Om kinders na Jesus te bring en Sy liefde sigbaar te maak vir hulle wat min het, is 'n Koninkryksopdrag. Christus wys en beklemtoon keer op keer dat kindertjies nie minder belangrik vir Hom is net omdat hulle klein is nie. In Matt 19:14 berispe Hy die dissipels wat die kinders van Hom wil weghou en sê vir hulle: "Laat staan die kinder-tjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle."
Om meer uit te vind oor wat nog nodig is vir die Crèche, hetsy finansiële of geestelike onder-steuning, kontak: Ds. Richard of me. Jeanet Ramalisa (082 717 2289), of Br. Daan Taljaard (018 294 4705), of Ena Jooste (018 297 3605 of 072 486 1325).

Indeks     Index