HUWELIK EN GESIN ONDER DIE MIKROSKOOP
  Ds. Piet du Toit

Vandag beleef ons 'n felle aanslag teen die instellings van die huwelik en gesin. Al meer stemme gaan op om die gesinstrukture af te takel en selfs met die huwelik en gesin weg te doen. Oral sien en beleef ons die ineenstorting van huwelike en uitwissing van gesinne. Dit noop ons om 'n slag weer goed na hierdie instellings te kyk.
Ons moet opnuut besef dat huwelik en gesin van God, wat Hom in Christus aan ons geopenbaar het, kom. Van die begin af, voor die sondeval, het God die huwelik en gesin ingestel. Dis 'n uitdrukking van Sy Wese. Dis soos Hy is en funksioneer: Hy is 'n Familiegod, 'n Gesinsgod. Hy laat Hom ken as 'n Vader wat 'n Seun het, en kinders het wat deur wedergeboorte uit Hom gebore is. Huwelik en gesin is dus 'n heilige instelling van 'n heilige God.
Ons moet dit opnuut in ons denke programmeer. Man en vrou moet elke dag besef: Wanneer ons ons huwelik en gesin bedryf, het ons met God Self te doen. Dit is vir Hom belangrik en daarom moet dit vir ons belangrik wees. ‘n Huwelik beteken eenwording: twee persone word één. Terme verander van “joune” en “myne” na “ons s’n”. Dit is 'n verbintenis tussen twee persone wat hul woord aan mekaar gee en trou aan mekaar beloof voor God en getuies.
Wanneer 'n paartjie gaan trou, moet hulle weet dat dit 'n lewenslange, permanente verbintenis is. Dis 'n weerspieëling van 'n permanente liefde vir mekaar wat nie sommer langs die pad verloor of eenkant gegooi mag word nie. As iemand nie hiervoor kans sien nie, moet hy/sy nie trou nie!
Die hoofdoel van die huwelik is om God te verheerlik. Die woord vir “verheerlik” in die Nuwe Testament beteken “oplig”. Ons huwelik moet die God wat ons aanbid en wat die Outeur van die huwelik is, “oplig”, sodat mense kan erken dat Hy die ware God is.
As individue het ons as Sy kinders Hom verheerlik, maar nou kan ons dit sáám nog beter doen. Ons huwelik moet ‘n Evangelisasieboodskap dra en mense na ons trek wat vra: “Wat maak die verskil in julle huwelik?” Ons moet kan vertel WIE die verskil maak!
Wanneer paartjies bg. waarhede goed besef en hulself daagliks daaraan herinner, sal daar 'n diepte in hul huwelikslewe kom wat vervullend, verrykend en God-verheerlikend sal wees!
Vra dus vir jouself: “Is my huwelik God-verheerlikend en God-gerig, of self-gerig?” Dit is dalk nodig dat jy en jou huweliksmaat tyd sal maak om weg te breek en in die stilte van die natuur en in die Vader se teenwoordigheid hierdie saak goed en deeglik sal bespreek en knelpunte uit die weg sal ruim.
Ds. Piet du Toit is 'n pastorale berader en stigter van Lusanti Beradingsbediening. Hy bied landwyd interkerklike seminare aan, o.a. die Kruis-seminaar: Bevryding deur die Kruis. Hy woon in Kuilsrivier, Kaapstad. Kontak hom vir optredes by (021) 903 9829.

Indeks     Index