WAT IS JOU REALITEIT? | |
  |
Saul het van ‘n koning wat deur God gesalf en gebruik is, verander in ‘n patetiese figuur. Hy het valse aannames gemaak. Die gevolg was dat hy Dawid wreed begin vervolg het. Spr. 3:5 sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Deur op sy eie insig te steun, het hy homself met baie smarte deurboor. Saul beskuldig sy eie stamgenote valslik: “…dat julle almal teen my saamspan en niemand dit aan my openbaar as my seun met die seun van Isai ‘n verbond sluit nie en niemand van julle met my medelyde het en dit aan my openbaar dat my seun my onderdaan teen my ophits om my voor te lê, soos vandag die geval is nie?” (1 Sam. 22:8). ‘n Tragiese demonstrasie van hoe verdraaid ‘n persoon se siening kan word omdat hy toegegee het aan jaloesie en woede: Saul het sy eie “realiteit” - ‘n mite - geskep en ‘n leuen geglo! Volgens hierdie “maatstaf” wat hyself neergelê het, het hy sy eie diensknegte verdoem en die priesters van Nob doodgemaak. Saul se “realiteit” wat hy vir homself geskep het, was eintlik ‘n leuen wat hom aan bande gelê het! Namate Saul se boosheid toegeneem het, het Dawid se probleme al meer en meer geword. Hoe maklik gebeur dit ook met ons! En wanneer dit met ons gebeur, is ons in werklikheid nutteloos vir God se werk! Iemand veronreg jou, kom jou te na, en al waaraan jy kan dink, is hierdie veronregting. In die meeste gevalle is jou waarneming van ‘n saak nie noodwendig heeltemal korrek nie (soos Saul s’n). Solank ek dan aan my eie “realiteit” vashou, kan God my nie gebruik nie! Verkry GOD se realiteit! Die mite van my eie “realiteit” vervaag in die lig van God se realiteit! Ek besef dan opnuut: Satan is die grootste skepper van mites, want hy is ook die vader van die leuen! Hoeveel “Sauls” vervolg jou? Aan hoeveel mites klou jy vas? Hoeveel leuens van Satan glo jy? Die oplossing is vergifnis, vryspraak en seënbedes vir jou vyande. Jou eie “realiteit”/mite is die teelaarde vir bitterheid, haat, gevoelens van ongelukkigheid, en onvergewensgesindheid. Dit weer, word gronde vir depressiwiteit. Jy aanvaar die leuen as “werklikheid”. Die antwoord is positiewe geloofsbelydenis van die Woord van God wat hierdie onwerklikheid, leuens, mites verbreek. VIND GOD SE REALITEIT! God is slegs met jou as jy SY realiteit gevind het en dit nastreef. Nie wanneer jy JOU “realiteit” nastreef nie. Hy kan slegs die waarheid ondersteun. God se realiteit vind ons op die plek van selfverloëning: kruisiging van die “ek”. Om SY realiteit te vind, beteken om pal aan Sy voete te sit sodat Hy ons kan leer. Psalm 32:8 – “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; My oog sal op jou wees.” Spr. 3:7-8 – “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.” Dood van die “ek” bring mee afhanklikheid van God. Jesus het gesê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3). Kom vind GOD se realiteit aan die voete van Jesus! Spreek vry en word self ook vry! |