DIE HERE VOORSIEN
  (Skrywer wil anoniem bly om kleinkind te beskerm).
In Nov. 2005 het ek en my man een naweek 'n familiefees op 'n ander dorp gaan bywoon. My dogter en kleinkind het by die huis agtergebly.
Die Saterdagnag het diewe by die huis ingebreek, my kleinkind in sy bed wakker gemaak en hom aangehou. Hulle het hom gevra waar sy ouers is en hy het gesê dat hy alleen tuis was.
Ons dien 'n wonderlike en genadige God! Hoewel die diewe die huis deursoek en geplunder het, het hulle die kamer waarin my dogter geslaap het, nie betree nie. Ek glo dat 'n engel haar daardie nag bewaar en beskerm het. Sy het glad nie wakker geword nie. Hulle het my kleinkind vasgebind en met 'n mes gedreig, maar elke haar van sy hoof was reeds getel deur ons Hemelse Vader en hy het fisies niks oorgekom nie!
Feitlik die hele inhoud van ons klerekas is uitgegooi, maar net die juwele is geneem. Daar het R2 000 oop en bloot langs die juwele gelê, maar hulle het dit nie raakgesien nie. Onder my truie was daar ook nog R3 000, maar dít het hulle ook nie raakgesien nie!
Hulle wou die kluis se sleutel hê. My kleinkind het verduidelik dat dit in een van die baadjiesakke was. Hulle het tevergeefs gesoek, maar kon dit nie kry nie. Die sleutel was wel in 'n sak, maar deur God se beskikking kon hulle dit doodeenvoudig nie kry nie. Hulle is garage toe en het met 'n gasbottel probeer om die kluis oop te brand, maar kon dit nie regkry nie. Die gasbottel het vlamgevat, maar hulle het van ons klere daaroor gegooi en so verhoed dat ons huis kon afbrand. Die diewe het toe ons TV geneem, maar dit in ons buurman se tuin gelos - ongeskonde! My kleinkind het hom losgewoel en sy ma wakker gemaak. Baie van die gesteelde goed is opgespoor. My nuwe leesbril het tussen die gesteelde artikels gelê - sonder 'n krap of merkie!
Ons aanbid 'n geweldige groot God. Hy is ons Erekoning, sterk en geweldig in die stryd. Hoop en vertrou volkome op Hom! Hy het die waters met die holte van Sy Hand afgemeet. Hy is volkome in staat om ons te help in elke benoudheid.
Met die terugrit wou my hart net smelt binne-in my. Ek het 'n landskap gesien en die Here hoor sê: "Ek het dit geskep, maar dit is nie My Koninkryk hierdie nie. My Koninkryk moet nog kom.
Maak jouself dus vandag nog gereed om jou God te ontmoet!”

Indeks     Index