DANKBAARHEID EN DIENSBAARHEID
 


'n Bekende skryfster het eenmaal gebid dat sy nooit haar vermoë tot verwondering moet verloor nie. Verwondering is die vermoë om soos ‘n kind, asof vir die eerste maal, na dinge te kyk. Die teoloog Ferdinand Deist gaan so ver om te sê dat dit ‘n vorm van gebed is. Om verwonderd te wees oor heel alledaagse dinge, sê hy, is om te bid. Om bly te wees oor die feit dat jy ‘n mens is en mag lewe, om bly te wees oor liefde tussen mense, of oor ‘n glimlag, is alreeds gebed, sê hy. Want dit is verwondering oor die werk van God.
Verwondering en dankbaarheid gaan hand aan hand. ‘n Mens wat hom só kan verwonder, is ook die dankbare mens. Maar dis asof ons só haastig geword het dat ons ons nie meer kan verwonder nie, en daarmee nie dankbaar is vir die onuitspreeklike voorreg van léwe nie: vir ons gesondheid, vir die skoon lyne van ‘n blakende kind in die bad, vir elke nuwe dag wat spierwit breek (hoe graag dra ons nie gister se ellendes saam die nuwe dag in nie!), vir mense om ons wat ons liefhet, vir die pragtige skepping om ons.
Vir die Christen is die grootste bron van dankbaarheid en verwondering Christus se menswording. Ons sal die misterie daarvan nooit heeltemal kan peil nie: dat God as Mens aarde toe gekom het, Hom volkome met die mens vereenselwig het, en versoening tussen mens en God bewerkstellig het sodat ons nou vry kan wees. As ons hierdie feite nuut ervaar, kan ons beperkte menslike verstand daar nie by nie!
Die mens wat in hom so ‘n verwonderde, dankbare hart omdra, is ook die diensbare een. Sou mens dan so ‘n groot geskenk ontvang, en nie iets wou teruggee nie? Die dankbare hart is die een wat bly is, wat graag iets terugsit in die lewe waaruit hy so baie kry.
Paulus sê dat die liggaam uit baie dele bestaan, en dat elke deel ‘n afsonderlike funksie het. Ons is nie almal eenders nie. Sommige van ons leef ons dankbaarheid uit deur onsself diensbaar te stel vir die barmhartigheidsdienste van kerke of ander organisasies. Kan u u ‘n wêreld voorstel sonder hierdie dienste? Die kinderhuise en huise vir bejaardes sou byvoorbeeld nie kon bestaan nie. Maar daar is ook dié van ons wat miskien ons dankbaarheid sal betoon met ‘n klein geskenkie vir die eensame wat verjaar, met ‘n gerusstellende geselsie by ‘n vreesbevange kind in die donker, met ‘n pot warm sop vir die siek buurvrou. Ons wêreld sal kouer en armer wees sonder die kleur van die klein gebaar wat kom uit dankbare harte.
Ek onthou my oupa Kallie goed. Hy was ‘n klein, krom mannetjie met ‘n spits baardjie soos Jan Smuts en waterige blou ogies. Oupa Kallie het swáár gehad: tydens die groot griep vrou en kinders verloor, finansiële druktes beleef, ‘n tweede vrou getrou wat chronies depressief was en die ses klein kindertjies in verwaarlosing laat rondloop het. Maar Oupa Kallie was ‘n diep opregte, blymoedige Christen wat met sy welluidende tenoorstem die kerk kon vul. Niks kon hom onderkry nie. Oupa Kallie se briewe aan Pa was altyd ‘n blye lofsang oor Gods grootheid en goedheid.
Geen swaarkry of ellende kan ons van God se liefde skei nie. Daarom kan ons met dankbaarheid saam met die psalmis sê:
Almagtige God, ewige Koning,
U woon in die lig,
en die aarde is die voetbank vir u voete.
Die hele aarde prys U, die mense loof U.
Wat is ons Here, dat U aan ons dink?
Ons is veels te gering,
Ons verdien niks van die barmhartigheid en trou
wat U aan ons bewys het nie.
Almagtige God, ewige Koning,
ons loof U.
Neem ons skamele dank
en ons skamele geloof aan.
Alles wat is, Here, het U geskep.
Alles wat is, getuig van u gedagtes,
God van liefde.
In alles wat is, word u plan vervul,
ook in my, heilige God.
In alles wat is, sien ek
die merkteken van u heerlikheid…
U is die boog oor my.
U is die hoogte en die diepte.
Ek is in U. Ek loof U,
heerlike God.
[Uit: Deur die liefde aangeraak, Winnie Rust, NG Kerk-Uitgewers, 1982].

Geborg deur: Lemon Blossom Gastehuis
Kerkstraat 4, Potchefstroom
Tel: (018) 297 1137 of 082 803 3872

Indeks     Index