WIE KAN ONS HELP?
 
Ek lees vanoggend 2 Kon. 6:24 tot aan die einde van 2 Kon. 7. Die gebeure handel oor die koning van Aram wat Samaria beleër het, en die situasie wat daar so versleg het dat mense eselkoppe en duiwe-mis gekoop het om te eet. ‘n Vrou het selfs haar seun gekook! “Kon dit slegter met hulle gaan?” vra ek toe myself.
Die koning van Samaria het met ‘n roukleed onder sy koningsdrag geloop en hy het God selfs blameer (6:33) vir die toestand waarin hulle was. Die adjudant van die koning maak toe die uitspraak dat selfs God nie hierdie situasie kon verander nie, al sou Hy vensters in die hemel maak. Sjoe! Hoe desperaat en verlore moet ‘n mens wees om so ‘n uitspraak te maak nadat die profeet van God, Elisa, die nuus bring dat kos die volgende dag spotgoedkoop in die stad sal wees. Hoe ongelowig kan ‘n mens tog wees?
Hierdie situasie herinner my toe aan die vlaag van misdaad, en ander onaanvaarbare dinge, wat tans ons land teister. Ek weet daar is mense wat moed opgegee het dat dit ooit beter hier kan gaan. Sommige het reeds die land verlaat. Sou ‘n mens veralge-meen, sou jy die gevoel onder vandag se mense as desperaat, wanhopig en soms “kom-ons-baklei” redelik akkuraat kon opsom.
Die verhaal gaan verder en vertel van twee melaatse manne wat só ‘n stadium van wanhoop bereik het dat hulle bereid was om na die Aramese leër te gaan en maar te aanvaar wat hulle te beurt sou val: lewe of dood. Toe hulle daar kom, kry hulle die laer verlate met alles wat daarin was, net so agter-gelaat… En hulle besef dadelik “hierdie is die dag van goeie boodskap” (7:9).
Hulle dra toe die boodskap oor aan die poortwagters en ook aan die koning, maar selfs hy was só wanhopig dat hy geglo het die Arameërs wou hulle in ‘n lokval lei deur hulle uit die stad te lok sodat hulle die stad kon inneem.
Na verdere ondersoek dring die werklikheid egter tot hulle deur. God het die leërmag van Aram “‘n gedruis van waens en gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor” (7:6) en hulle het gedink daar kom ‘n groot oormag teen hulle.
Hulle het so haastig gevlug dat hulle klere op ‘n streep agter hulle bly lê het. Die Israeliete kon toe uitgaan om die laer te plunder en te neem wat daar was.
Ek lees verder in 1 Kron. 14:15 dat God die geruis van voetstappe in die toppe van balsembosse veroorsaak het, sodat Dawid die Filistyne kon aanval terwyl God hulle reeds verslaan het.
Verder lees ek ook in 2 Kon. 6:17 dat toe Elisa die oggend uitgaan, hy sien dat die stad Dotan omsingel was. Elisa se dienaar was baie bang, maar Elisa vra God om sy oë te open sodat hy die berge vol perde en waens van vuur kon sien wat rondom hulle was. God verblind die Arameërs só dat Elisa hulle openlik kon weglei elders heen.
Wat probeer ek sê deur hierdie Bybelse verhale te gebruik? Ons wat wanhopig raak oor die vlaag van misdaad, korrupsie, wan-administrasie, nepotisme, ens. dien ‘n God wat omstandighede en mense kan verander. Hy vra egter dat ons, oor wie Sy naam uitgeroep is (2 Kron. 7:14), ons moet veroot-moedig, Sy aangesig soek, ons bekeer van ons verkeerde weë en Hy sal ons land genees!
Ons bid graag vir reën, maar sê nie so geredelik “dankie” nie. Ons wil hê dinge in ons land moet verander, maar ons is nie bereid om te bid en vir God te vra om dit te doen nie! Terselfdertyd vra ons ook nie vergifnis vir ons eie sondige lewe nie. Ons wil eerder dinge in eie hande neem, betoog en dreig, terwyl God oor die vermoë beskik om elke onmoontlike saak in ‘n oogwink reg te maak!
My beroep op die Kerk van God is om ‘n dag van verootmoediging en bekering uit te roep waar ons die aangesig van God sal soek sodat HY die dinge wat verkeerd loop in ons land, kan herstel. HY KAN!
“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede en magte en wêreldheersers van duisternis” (Efésiërs 6:12).
Ons het die wapenrusting van God nodig om die aanslag die hoof te bied. Hier gaan dit oor niks anders as die magte van duisternis wat beheer oor ons land wil verkry sodat Satan sy vernielingswerk kan voortsit nie.
“Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lenterëens die grond verkwik”
(Hosea 6:3).

Indeks     Index