ROBERT MOFFAT EN DIE TSWANA-BYBEL
 

Robert Moffat

Min het die egpaar MOFFAT geweet dat die geboorte van hulle seuntjie op 21 Desember 1795 in Skotland daartoe sou lei dat ‘n volk in verre Afrika vanjaar die 150ste bestaansjaar van die Bybel in hulle eie taal kan herdenk.
Op 17 Januarie 1817 kom die 22-jarige Robert Moffat as sendeling van die Londense Sendinggenootskap in Kaapstad aan. Na ‘n tyd in Stellenbosch, waar hy Nederlands leer, en werk in Namakwaland onder die mense van Jager Afrikaner, kom hy uiteindelik in 1825 in Kuruman aan.
Hier begin hy in alle erns om Tswana aan te leer en teen die einde van 1829 voltooi hy die vertaling van Die Evangelie volgens Lukas. Met die kosbare manuskrip in sy sak, reis Moffat na Kaapstad op soek na ‘n drukker. Uiteindelik help die staatsdrukker, BJ van de Sandt, hom met die taak en in 1830 verskyn die Lukas-Evangelie: die eerste volledige Bybelboek in Tswana!
Met die hulp van mnr. Van de Sandt bemeester Robert Moffat en sy helper, Roger Edwards, die boekdrukkuns. Met hulle terug-keer na Kuruman neem hulle ‘n kosbare vrag saam - ‘n yster handdrukpers, ink en papier.
Teen 1838 is die vertaling van die Nuwe Testament voltooi. Hierdie keer gaan Moffat na Engeland, en met die hulp van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap word die Nuwe Testament in 1840 gepubliseer.
Met sy terugkeer duur die lang en moeisame proses om die hele Bybel te vertaal egter voort. Wanneer ‘n gedeelte gereed was, is dit op die pers in Kuruman gedruk - die Psalms in 1841, Spreuke in 1847, en in 1853 verskyn die eerste deel van die Ou Testament: Genesis tot 2 Konings.
Die verskyning van die tweede deel van die Ou Testament in 1857 span die kroon op Robert Moffat se lewenstaak: die vertaling van die volledige Bybel in Tswana was afgehandel en gedruk!
Die Tswana-Bybel was die eerste volledige Bybel om in ‘n inheemse taal van Suider-Afrika te verskyn, en op twee na, die eerste in Afrika.
Dit is 150 jaar later, en dit is steeds die taak van die Bybel-genootskap om te verseker dat die Bybel vir Tswanasprekendes beskikbaar is. In Suid-Afrika alleen woon daar tans bykans 4 miljoen Tswanasprekendes. Verlede jaar is daar byna 30 000 Tswana-Bybels in Suid-Afrika versprei. Sowat 20 000 Standaardbybels moet vanjaar gedruk word om in die behoefte te kan voorsien. Die bedrag benodig vir produksiekoste is R500 000. U kan help om in hierdie feesjaar die Bybel in die hande van Tswanasprekendes te plaas!
Uit: Die Saaier, Herfs 2007, Bybelgenootskap van SA.
Tel: (021) 910 8777
Faks : (021) 910 8799
e-pos: biblia@biblesociety.co.za

Indeks     Index