OOM BEN SE LIEFDE VIR JESUS... | ||
  |
![]() Dis vroeg Sondagoggend en die kombi dreunsing op die plaaspad anderkant die Vaalrivier. “Oom Ben” soos hy by ieder en elk bekend staan, is besig om een van daai laaaang stories te vertel. So tussendeur klink sy aansteeklike laggie. Hy geniet sy eie storie só dat jy nie anders kan as om te luister nie. Hy gaan maak ? Kaapse draai met elke storie, kompleet soos oor’le Jan Spies! Ons is op pad na Rosevale. Dis vanoggend weer oom Ben se beurt om die evangeliste en hulpwerkers te gaan aflaai. Jy skop nie sommer agter elke bos ? man met soveel deursettingsvermoë uit nie. Hy is altyd vriendelik, altyd hulpvaardig en altyd nederig en beskeie. “Goud van die aarde” sou my ma sê! Hy doen sy ding so stil-stil elke Sondag. Sien, dit is sy manier om die Evangelie onder die plaaswerkers uit te dra. Lena word eers by Chubby Chick afgelaai en daar anderkant by Noric Farm, is dit Joubert en Rosie se beurt om af te klim. Joseph is die laaste om af te klim by Rosevale. Elke evangelis en geestelike werker het sy taak om te doen. Party hou Sondagskool vir die kinders op die plaas en ander preek met groot erns. Terwyl Joseph preek, wonder ek stilweg: hoe sal die mense tog hier buite op die plaas by die kerk kom, as die kerk nie na hulle kom nie? Ek onthou die woorde ... “Maar hoe kan ? mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van die wat die goeie boodskap bring” (Rom.10:14-16). Terwyl ek die spanwerk dophou en die passie sien waarmee hulle die Woord deel, die erns op hulle gesigte wanneer hulle biddend met God praat, begin die Skrifgedeelte vir my sin maak. Ek weet, eendag sal oom Ben en sy helpers in die hemel aankom en die oes sien wat deur hul beskeie werk ingesamel is. Stilweg sê ek dankie vir vriendelike boere wat ons so toegeeflik op hul plase ontvang... Ek sien die waardering, liefde en dankbaarheid op die gesiggies van die plaaswerkers. Gesiggies wat sê: “Dankie dat julle ons nie vergeet nie”. Naskrif: Oom Ben en die evangeliste is deel van Miederpark se plaaslike Sendinguitreike. As ons nog helpers en voertuie ontvang, kan ons nog meer mense bereik. Skakel die Sendingkantoor soggens by 018 294 3900 as jy wil help! |