GOD SELF SAL JOU LEER EN LEI | ||
  |
As plaaskind was dit altyd 'n wonderlike voorreg om gedurig te kon perdry. 'n Mak perd wat getem is, is geleer om die bevele van die ruiter te gehoorsaam. Bevele het nie noodwendig deur praat gekom nie. Wanneer die ruiter op die perd se rug sit, het hy die teuels op 'n bepaalde wyse met die een hand vasgehou. Daarmee kon hy die perd stuur soos hy wil. Wanneer hy bv. links wil draai, word die teuels na die linkerkant gedruk, en die perd voel dit teen sy nek (aan die regterkant) - 'n duidelike bevel om links te draai, wat hy dan ook slaafs uitvoer. Dit is vir my 'n duidelike beeld van 'n lewe wat aan God toegewy is. So 'n lewe vra nie vrae nie, maar voer God se bevele stiptelik uit. Vir diegene wat bereid is om 'n oorgegewe lewe aan God te leef, kom daar hierdie wonderlike belofte: “So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan” (Jes. 48:17). Wanneer ons bereid is om met God te wandel, belowe Hy in hierdie teks twee dinge. Hy sê: “Ek is die HERE jou God wat jou leer wat heilsaam is.” Die Hebreeuse woord vir “leer” is lamad. Hierdie woord hou die betekenis in van onderrig, maar dit is ook meer as dit. Dit kan ook beteken “prikkel” of “aanspoor” (soos 'n dier wat getem is, bv. 'n perd) om 'n sekere ding te doen. So kom die Stem van die Heilige Gees in die lewe van die gehoorsame, toegewyde gelowige wat gedissiplineer is om God volkome in en met alles te dien. Op 'n stil, sagte manier, soms slegs deur 'n prikkel of 'n sagte aansporing, raak ons bewus van Sy leiding in ons lewe. Hierin leer Hy ons wat heilsaam is. Dit is tot ons voordeel! Hy weet die beste, en Hy alleen ken die toekoms. Jy kan dus jou lewe aan Hom toevertrou! Dan doen Hy ook die volgende ding wat Hy belowe: Hy is die Een “wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.” Nogeens spreek dit van 'n sagte werkswyse. Hy lei jou, Hy forseer jou nie. In Jes. 30:21 staan daar geskryf: “...en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” Dit is só belangrik om na Hom te luister! Sy Woord gaan verder in Jes. 48:18 - “Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos 'n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see...” Gehoorsaamheid aan God bring 'n ongekende vrede in ons harte teweeg. Dit is 'n vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7). 'n Vrede wat, wanneer jy dit eens gesmaak het, jy nie weer vir enigiets ter wêreld wil prysgee nie! God roep jou vandag tot 'n totale oorgegewe lewe. Wees gehoorsaam en beleef Sy konstante vrede in jou lewe! |