GEBRUIK OF VERKWIS JY JOU TYD?
  Die man van God, Moses, skryf in sy Gebed in Ps. 90:12 soos volg: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!” (Ou Vertaling) en “Help ons om te besef hoe kort ons tyd op aarde is sodat ons verstandig kan lewe” (Die Lewende Bybel).
Hoeveel tyd bestee jy en ek elke dag aan die volgende aktiwiteite: werk, slaap, eet, sport, gemeenskapsaktiwiteite, stokperdjies, TV, Video's, DVD's kyk, of ander vorme van ontspanning? Bly daar enigsins tyd oor om jou Bybel te lees en te bid? Wat van gesins- en kerklike aktiwiteite?
Bestee ons die meeste van ons tyd aan dinge wat oor ewigheidswaarde beskik, of is ons vasgevang in onbenullighede wat eintlik geen ewigheidswaarde het nie? Is die meeste van ons nie dalk geestelik ondervoed nie? Kom 'n bietjie tot stilstand en doen 'n geestelike ondersoek oor die stand van jou lewe. Kyk hoe en waaraan jy jou lewe bestee, want die wyse waarop jy jou tyd bestee, is ook hoe jy jou lewe bestee!
Kom ons bid die volgende gebed:
HERE, ek raak so dikwels vasgevang in die tydelike en die onbenullige. Te dikwels raak ek opgewonde oor dinge wat nie 'n sekonde lank sal tel in die ewigheid nie. Ek verspil my tyd, geld en kragte. Maak my oë oop om te kan sien wat ewig is. Gee vir my wysheid wanneer ek U Woord lees en hoor. Leer my om te besef wat verkwisting is en wat waardevol is. Mag my aanbidding van U gekenmerk wees deur onselfsugtige, onvoorwaardelike gee. Ek kom al meer tot die besef dat hierdie lewe is “soos 'n damp wat verskyn en sommer weer verdwyn” (Jak. 4:14). Mag ek al my eie agendas opsy skuif en my oorgee aan U en U ewige weë!
[Uittreksels uit: Vroue van die Bybel, Barber, Rasnake, Shepherd, CUM, 2007].

Indeks     Index