GEKAAP!
 

Hierdie getuienis lewer ek namens my skoonma en swaer, want ek voel dat die getuienis van God se genade, en die krag van gebed soveel mense moontlik moet bereik.
My een skoonsuster bly in Springs en die res van my skoon-familie in Secunda. Hierdie skoonsuster van Springs se man het op 21 Januarie 2010 in die hospitaal beland en my skoonma van Secunda wou graag gaan om haar dogter te ondersteun. My swaer het aangebied om haar op Vrydag, 22 Januarie, na werk na Springs te neem. Omstreeks 21:00 die aand ontvang my man 'n oproep en verneem dat sy broer (my swaer) en sy ma in 'n kapingsdrama was en dat die kapers met my skoonma in die motor weggejaag het! Nodeloos om te sê - met die aanhoor van sulke nuus - sterf 'n mens sewe verskillende dode! Dit is mos Suid-Afrika en ons weet almal wat gebeur in sulke situasies. Ek het kamer toe gehardloop om iets anders aan te trek voor ons ook na Springs sou vertrek. Daar is ek onmiddellik gelei om te kniel en ernstig vir my skoonma in te tree.
Hierna maak ons klaar, ry na Secunda om my swaer se seun op te laai, en ry daarna Springs toe. Op pad na Springs probeer ons my swaer op sy selfoon skakel, maar die selfoon word net doodgedruk. Ek probeer my skoonma se selfoon skakel, maar elke keer gaan die selfoon net dood.
Intussen is daar baie oproepe heen en weer en die derde keer toe ek my skoonma se selfoon skakel, antwoord sy self!!! Die verligting en dankbaarheid was onbeskryflik. Sy vertel dat die kapers haar afgelaai het en dat sy die weermag-barakke in Dunnottar kan eien en dat sy op pad is na die Dunnottar-polisiestasie. Na nog 'n paar oproepe, verneem ons dat Skoonma nou veilig terug is by my skoonsuster.
Toe ons by my skoonsuster se huis aankom, hoor ons die hele storie. My swaer vertel dat hy voor die hek stilgehou het. Dit is 'n elektroniese hek en omdat die hek nie oopgemaak het nie, het my swaer aangeneem dat sy suster dalk hospitaal toe is.
Hy klim toe uit en probeer die hek oopmaak. Die volgende oomblik gewaar hy 'n motor wat in die pad reg agter sy motor intrek en twee gewapende mans wat uitspring en beduie dat hulle die motor gaan vat. Hy skree dat hulle die motor moet neem, maar dat hulle net sy ma 'n geleentheid moet gee om uit te klim.
Hulle voldoen toe NIE aan sy versoek nie, maar jaag weg met my skoonma nog in die motor. Hy vertel dat hy agter die motor aangehardloop het en geskree het dat hulle net sy ma uit die motor moet laat klim.
Toe hy besef dat hulle nie gaan stilhou nie, val hy op sy knieë in die pad en begin ernstig vir haar beskerming en veiligheid intree. Bure wat die geraas gehoor het, help hom hierna. Die polisie word gebel en toe begin die lang wag... Nou by skoonma se weergawe. Sy sê dat sy nie aanvanklik besef het wat besig was om te gebeur nie en toe my swaer skree dat sy moet uitklim, kon sy nie vinnig genoeg uitkom nie. Die volgende oomblik spring daar 'n gewapende jongman in die kar en al wat sy toe ervaar is dat hulle met groot spoed wegjaag. Mag ek met groot deernis noem dat dit nie my skoonma se aard is om regtig kalm te bly nie. Ek moet dit noem omdat dit die wonderwerking van God se krag en genade in hierdie geval so mooi en sterk uitbeeld. Skoonma vertel verder dat na die aanvanklike skok, daar 'n GROOT KALMTE OOR HAAR GEKOM HET. (Prys die Heer)! Sy begin toe aanmekaar met die jong kaper gesels. Vertel vir hom van haar skoonseun wat siek is, dat sy nie van Springs is nie maar van Secunda, dat sy 'n diabeet is, dat haar man 9 jaar gelede oorlede is, ens., ens., ens. Sy sê sy het net aanhou praat en vertel. Naderhand merk sy op dat die kaper kalmer raak en selfs saampraat.
Hy vertel vir haar dat hy nie kan werk kry nie en dat hulle 'n gesin van 6 is en dat hy die enigste een is wat 'n "inkomste" het. Op 'n stadium praat my skoonma toe mooi met hom en verduidelik vir hom dat sy sieklik is en dat sy 'n ou vrou van 70 jaar is. As hy haar gaan seermaak of doodmaak, sal dit vir haar sleg wees, maar sy het darem al haar lewe gelééf. Hy sal egter vir altyd met die wete moet saamleef dat hy 'n ou vrou dood- of seergemaak het. Hy sê toe vir haar DAT HY HAAR NIE GAAN SEER-, OF DOODMAAK NIE. (Prys God nog meer)!!! So ry hulle en die volgende oomblik hou hy stil en sê vir haar om uit te klim. Skok, ouderdom, wat ook al, maak toe dat sy nie vinnig uit die kar kon kom nie en daar spring die kaper uit EN HELP HAAR UIT DIE MOTOR UIT - MET HAAR HANDSAK EN AL! (Wat 'n wonderlike God dien ons nie)! En daar ry hy weg...
Dit is toe dat sy sien dat sy naby Dunnottar se weermagbasis is. Sy besluit toe maar om soontoe te stap. Die volgende oomblik kom daar twee jong swart mans na haar toe (en onthou asb. dat dit nou al na 10 die aand is), en vra wat gebeur het. Sy vertel vir hulle dat sy gekaap is. Die een sê toe dat hy solank polisiestasie toe gaan hardloop en die ander een sê dat hy saam met haar sal stap.
Toe kom sy agter dat sy binne LOOPAFSTAND VAN DIE POLISIEKANTOOR AFGELAAI IS. (Hoe ongelooflik groot is ons God)! Die jongman wat by my skoonma gebly het, vra toe vir haar of hy maar haar hand kan vat want hy sien dat sy nie baie vas op haar voete is nie en hy wil nie hê dat sy moet val en seerkry nie. (EN GOD SKAAR SY "ENGELE" RONDOM DIE WAT HOM VREES)!
So stap hulle toe saam polisie-kantoor toe en die twee bly by haar totdat my skoonsus my skoonma daar kom haal. Hierdie is Suid-Afrika. Maar hierdie getuienis getuig van GOD SE WERKING BINNE SUID-AFRIKA. Die KRAG van GEBED en die GENADE van 'n ALMAG-TIGE GOD het gemaak dat ek nie vandag kan stilbly nie. Ons in Suid-Afrika moet weet dat God ons sal bewaar te midde van misdaad as ons ons net sal verootmoedig voor Hom en Sy Naam sal aanroep in ons nood.
Voel asseblief vry om hierdie getuienis te versprei sodat daar meer mense kan wees wat van die liefde en genade van ons God kan hoor.

Ronel Goosen
017 610 9072 of 082 702 2027

Indeks     Index