JESUS HET OPGESTAAN! | |
  |
Paastyd is 'n tyd van herdenking, 'n tyd van verootmoediging. Dit sluit die lyding, kruisiging, sterwe, begrafnis, en opstanding van die Here Jesus in. Dit is die tyd wanneer elkeen van ons op Jesus se kruisweg mag saam-stap en opnuut ontdek presies hoe geweldig die prys was wat Hy bereid was om te betaal sodat ons kinders van God kon word. Nou kan ons juig oor 'n leë graf, maar elkeen van ons kan in hierdie lydenstyd die volgende vrae aan onsself stel: "Here, het ek U, soos Judas, miskien op een of ander manier verraai? Of het ek U soos Petrus verloën?" Petrus het vuriglik belowe dat hy getrou sal bly, maar ongelukkig het hy jammerlik gefaal. Faal ons nie ook dikwels op dieselfde wyse nie? In sy donkerste en bitterste oomblikke van smart bid Jesus in die tuin van Getsemané. Hy vra Sy Vader om hierdie smartlike beker van Hom weg te neem, maar Hy onderwerp Hom nogtans aan God se wil, en nie Sy eie nie. Hy vind Sy dissipels wat Hom moes ondersteun, aan die slaap, en vra vir Petrus, "Was jy nie in staat om een uur te waak nie?" Bly ons vandag nog biddend en wakend? Die gebeure rondom Jesus se kruisiging en dood moes vir die skare angswekkend gewees het. Nie alleen het die aarde gebeef en 'n vreesaanjaende duisternis oor hulle neergedaal nie, maar die grafte het hulle dooies gegee, en Jesus het met 'n groot stem uitgeroep: "My God, My God, waarom het U My verlaat?" Ja, Jesus was van God en mens verlate. Hy moes alleen deur die Vallei van die Dood beur, sodat ons nooit alleen hierdie tog hoef aan te durf nie. Hy belowe in Sy Woord: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie" (Hebreërs 13:5). Sy uitroep, "Dit is volbring!" beteken dat elke sondaarmens wat hom tot God wil bekeer, nou deur die Bloed van Jesus met God die Vader versoen kan word. Jesus het ons skuld ten volle vereffen deur Sy kruisdood. Ons moet dit net aanneem! Die swaar, geborduurde gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste deel van die tempel afgeskei het, het middeldeur geskeur van bo tot onder. So is Sy liggaam ook in antwoord op God se wil vir ons verwond en "geskeur". Nou het ons onbelemmerde toegang tot God die Vader wat woon in ontoeganklike Lig. Kom ons dank Jesus opnuut dat Hy vir ons gesterf het en opgestaan het uit die dood, dat Hy leef en dat Hy sal regeer tot in alle ewigheid! Laat ons in nederigheid en diepe sonde-besef opnuut ons harte onder-soek, en tot Hom nader, terwyl ons Hom smeek om vergifnis, genade, en reiniging. Dan kan ons met blydskap en afwagting uitsien na die heerlike verskyning van ons komende Bruidegom! Mev. M van Heerden Tel: (018) 462 2980 |