HOE LYK HOU BID-HART?
 

Hoe lyk jou bid-hart? Het jy 'n hart wat wil bid en geestelik op 'n plek is waar jy kan bid? Dit gebeur te dikwels dat ons bid vanuit 'n hart vol skuldgevoelens. Ons weet ons moet bid en wanneer ons nie bid nie, voel ons skuldig en die skuldgevoelens dryf ons dan tot selfgeforseerde gebed.
'n Hart wat wil bid en gereed is om te bid, word deur 'n verskeidenheid dinge voorberei: Eerstens is dit belangrik om God te ken, Sy hart te verstaan en Hom te vra om Homself aan ons te openbaar. Hierdie openbaring kry ons primêr deur die Woord te bestudeer en die Heilige Gees te vra om God se hart en karakter aan ons te openbaar. Dit is alleen die Heilige Gees wat God die Vader en Jesus aan ons kan openbaar.
Tweedens word ons harte voorberei om te bid wanneer die Heilige Gees al dieper en dieper vir ons wys hoe God oor ons dink en wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het. Dit gebeur so maklik dat ons 'n paar jaar na ons bekering begin vergeet wat Jesus vir ons gedoen het, God se onvoorwaardelike liefde vir ons, die genade wat Hy aan ons bewys het deur vir ons te gee wat ons nie verdien het nie, en Sy barmhartigheid om ons nie te straf vir dit waarvoor ons regtig straf verdien nie. Derdens sal ons wil bid wanneer ons die nood van die wêreld sien, die gevolge van die nood van mense, hulle totale verlorenheid en hulpeloosheid. Maar ons het méér as dit nodig. Ons moet God vra om ons eie ongenaakbaarheid, ons genadeloosheid vir ons te wys totdat ons oor ons eie harde harte kan huil. Wanneer dít gebeur het, moet ons die Here vra om vir ons trane vir ander se nood te gee. Trane sal maak dat ons kán bid: trane oor ons eie harde hart en daarna trane oor ander se nood en pyn.
In die vierde plek moet ons verstaan dat ons nie uit onsself kan bid nie. God moet vir ons 'n hart gee om te bid. Alleen die Heilige Gees kan 'n egte begeerte in ons werk om te bid. Dit is ook die Heilige Gees wat ons moet leer wát om te bid. Uit onsself weet ons nie hoe om reg te bid nie. So baie van ons gebede is uit die self gebore.
'n Hart wat bid, is in die vyfde plek 'n hart wat twee dinge weet: Ek kan myself nie help nie, en ek kan ander nie help nie, maar Gód kan.
Wat is in jou hart wanneer jy bid? Waarvoor bid jy? Is dit die dinge waarvoor God wil hê jy moet bid? Is dit wat ook op Gód se hart is? Die Heilige Gees sal vir jou gebedslaste gee wat ooreenstem met die redes waarvoor Jesus gesterf het. Baie mense verloor hulle begeerte vir gebed omdat hulle so oorgegee is aan begeertes vir hulle eie voordeel en voorspoed. God se hart het egter gebreek vir die stukkendheid van mense.
Hoe lyk jou bidhart? Wat is daarin? O, dat ons harte vol sal wees met die dinge waarvan God se hart vol is! - Bennie Mostert, Besturende Direkteur: Jerigo Mure Internasionale Gebedsnetwerk, Maart - Mei 2011].

Indeks     Index