OM GOD TE VERHEERLIK... | |
  |
In my kinderdae, nog op laerskool, moes ons as seuns soms algemene take verrig op die skoolterrein. Daar was een seun wat ek nog duidelik onthou. Hy sou na die onderwyser in beheer hardloop, altyd haastig en baie fluks, en dan vir hom vra: "Meneer, wat is daar wat ek kan doen?" Wanneer hy 'n taak kry, sou hy dit vinnig afhandel en wéér na die onderwyser hardloop vir 'n volgende opdrag. So sou hy aangaan en aangaan totdat al die werk klaar was. So 'n seun was voorwaar 'n plesier vir die onderwyser! Is dít nie wat ons gesindheid behoort te wees in ons verhouding met die Here nie? Ons moet ons opdragte van Hom kry sodat ons Sy Koninkryk kan bevorder. Elke opdrag moet ons nougeset uitvoer, maak nie saak wat ander mense daarvan dink of sê nie. Solank ons Hóm behaag. Jesus bid in Joh. 17:4 - "Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk (Eng. "Assignment") wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring." Die opdrag wat Hy van die Vader ontvang het, het Hy uitgevoer, en daarin het Hy die Vader verheerlik! Dit is ál manier hoe ons die Vader kan verheerlik. Ons moet Sy opdrag vir ons lewe nougeset uitvoer - tot aan die einde van ons lewe. Paulus sê aan die einde van sy lewe: "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop vol-eindig; ek het die geloof behou" (2 Tim. 4:7). Dit laat my ook dink aan die predikant wat nog besig was om te studeer. Hy sê hy het maar slap laat lê toe hulle 'n sekere werks-opdrag gekry het en tot die dag voor die indieningsdatum uitgestel. Hierna het hy met alle mag en mening ingespring, deur die middernagtelike ure gewerk en uiteindelik die opdrag voltooi! Hy was baie trots op homself en het verwag om 'n goeie punt te kry. Groot was sy verbasing toe hy sy opdrag terugkry en sien dat hy NUL gekry het! Trouens, daar was 'n streep dwarsoor die eerste bladsy getrek! Hy kon sy oë nie glo nie, en het weer en weer na sy opdrag gekyk tot hy die opmerking van sy dosent in twee eenvoudige woorde gelees het: "Wrong assignment!" Hy het die opdrag heeltemal verkeerd vertolk en beantwoord! Het ons goed geluister na die opdrag wat die Here aan ons gegee het? En is ons volhardend daarmee besig? Ons moet die taak wat Hy aan óns opgedra het, voltooi. Slegs dán kan ons Hom verheerlik! Dit is hoe Jesus Sy opdrag voltooi het: Hy het die werk volbring wat die Vader Hóm gegee het om te doen. Het u dalk ook 'n roeping van God ontvang om voltyds vir Hom te gaan werk? Maar het jy dan dalk by jouself geredeneer dat as jy jou roeping net so effens verander en eerder 'n groot sakeman word, baie geld verdien, jy dan 'n sende-ling finansieel kan help om sy roeping op die sendingveld uit te leef? Die Here sê vandag vir jou: "Wrong assignment!" En jy kry 'n ronde NUL! Is dit dalk beter om hierdie woorde eerder NOU te hoor as om dit eendag te hoor wanneer jy voor Hom gaan staan? Wat sal jy DAN vir Hom sê? Jesus het gesê: "Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie" (Joh 9:4). Paulus sê: "Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord" (Rom 13:12). God gee aan ELKE kind van Hom take om te verrig én mense wie se lewens hy/sy moet aanraak. Luister aandagtig, wees gehoor-saam en verrig daardie opdragte toegewyd. U sal nooit spyt wees nie, maar vol vreugde wanneer God aan u sê: Welgedaan, goeie en getroue dienskneg / diensmaagd! © Dr. JJ Venter |