5 VOOR MIDDERNAG?
 

Die Antichris sal vir "een week lank" (sewe jaar) met baie volke en ook met Israel ‘n sterk verbond sluit. Hierdie verbond sal egter nie vir baie lank hou nie. Na drie-en-’n-half-jaar sal Antichris sy ware kleure toon. Hy sal sy ooreenkoms met Israel verbreek en die Jode aan groot vervolging onderwerp: "...en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou..." (Daniël 9:27(b) OV).
Ons lees ook in Daniël 7:23(b) dat die Antichris se heerskappy sal verskil van al die vorige koninkryke en dat hy die "hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel."

Hy sal só verwaand wees dat Hy God sal misken en teen Hom laster:
"Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê" (Daniël 11:36(a) NV).

Hy sal God negeer en eis dat almal hóm aanbid: "En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie" (Openbaring 13:8 OV).
Om sy wens van krag te maak, sal hy bevel gee dat "niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van `n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig" (Openbaring 13:17 - 18 OV).

Om daaraan te dink dat daar ‘n tyd sal kom wanneer elke individu in die wêreld ‘n "merk" sal moet hê sodat hy of sy geïdentifiseer kan word, het nog altyd vergesog geklink. Die feit dat daar byna elke dag nuwe metodes van identifikasie ontdek word, bring mee dat so ‘n identifikasieproses dalk tog ‘n moontlik-heid geword het.

Radio Frekwensie Identifikasie (RFID) maak gebruik van die inplant van ‘n klein mikroskyfie (0,05 by 0,05 millimeter) in kleinhandelartikels om winkeldiewe te fnuik. Dis ook al by troeteldiere ingeplant om hulle op te spoor wanneer hulle verdwaal of wegraak. En dis onlangs by pasiënte met Alzheimer-siekte gebruik. Voorts kan hierdie mikroskyfies gebruik word as persoonlike identiteitsmerkers wat chirurgies onder ‘n mens se vel ingeplant word en gelaai is met opgetekende inligting oor jou.

Antichris sal Satan se "supermens" wees wat die volk van God (Israel), en alle ander gelowiges wat nie gereed was vir Jesus se Koms nie en agtergebly het na die Wegvoering, asook diegene wat nog tot geloof in God mag kom, sal vervolg, martel en doodmaak. Hy sal die magtigste diktator wees wat die wêreld nog ooit gesien het en hy sal oor die beste tegnologie beskik en daarvan gebruik maak om elke mens op aarde te identifiseer.
Bg. is ‘n uittreksel uit die boek, "5 voor Middernag?" deur dr. Japie & Huegene Venter.

Indeks     Index