BEGIN NUUT... MET 'N REIN HART | |
  |
Naalde, knope, muntstukke, 'n televisiekontrole, 'n soutpot en beendere van diere. Dít is enkele van die vreemde voorwerpe wat oor die afgelope 80 jaar tydens operasies in 'n Kroatiese hospitaal uit pasiënte se liggame verwyder is. Hoewel die artikels aanvanklik gehou is om aan jong voornemende mediese studente te demonstreer wat op hulle mag wag, het die hospitaal onlangs besluit om die versameling te raam en in die hospitaal te vertoon tot vermaak van besoekers. Een van die redes waarom dokters vreemde voorwerpe so spoedig moontlik uit pasiënte se gestel moet verwyder, is omdat dit infeksie kan veroorsaak wat later die pasiënt se hele liggaam kan affekteer. Ongelukkig laat ons ook soms toe dat "vreemde voorwerpe" in die vorm van selfsug, jaloesie, trots, 'n kort humeur, bitterheid en onvergewensgesindheid in ons harte posvat en groei. As ons nie toelaat dat God dit verwyder nie, gaan ons ook beleef hoedat dit infeksie veroorsaak wat later ons hele lewe gaan affekteer. God is heilig en Hy begeer dat ons met 'n rein hart voor Hom sal staan. In Psalm 24:3 - 4 lees ons: "Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in Sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is..." Ook in Matteus 5:8 sê Jesus: "Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien." In Efesiërs 4 vind ons 'n paar wenke hoe ons hierdie "vreemde voorwerpe" uit ons lewe kan hou: "Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat na die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig... As julle kwaad word, moenie sondig nie... Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom... Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het." God is ons Chirurg. Omdat Hy ons liefhet, kan Hy sy skalpel nadertrek en daardie dinge uit ons harte sny wat ons geestelik doodmaak. Kom ons vra Hom dus om dit te doen voordat dit te laat is! Gebed: Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe. Wys my asseblief wat ek in my lewe moet verander en help en versterk my om dit te doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. - Benescke Janse van Rensburg |