DIE HEILIGE GEES IS SAAM MET ONS | |
  |
Jesus het voor Sy hemelvaart gesê dat Hy die Heilige Gees as "ander Trooster" na Sy dissipels sal stuur. Dit is deur Johannes aangeteken en staan bekend as die Parakleet-uit-sprake (Grieks = Parakletos vir "Trooster"). Hierdie beskrywing word in Johannes 14 - 16 gevind. Jesus noem Hom die ander Trooster, want Hy moes kom in die plek van Jesus. 'n Paar sake is vir ons belangrik oor die Heilige Gees, die Trooster, in verhouding tot gelowiges: Hy sal by hulle bly tot in ewigheid; Hy sal hulle alles leer en herinner aan alles wat Jesus gesê het; Hy sal van Jesus getuig; Hy sal hulle in die hele waarheid lei; Hy sal die toekomstige dinge aan hulle verkondig; Hy sal Jesus verheerlik. In baie gevestigde kerke word die Geloofsbelydenis, wat die toets van die eeue deurstaan het, elke Sondag gehoor: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde; En in Jesus Christus, Sy enig-gebore Seun, ons Here; Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; Wat op die derde dag opgestaan het uit die dood; Opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Ek glo in die Heilige Gees; Ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; Die vergewing van sondes; Die opstanding van die liggaam; En 'n ewige lewe. Die Christelike Kerk noem hierdie Belydenisskrif die Apostoliese Geloofsbelydenis, alhoewel die apostels dit nie opgestel het nie. Gedurende die tweede eeu het dit sy ontstaan gehad en het dit verder ontwikkel totdat dit uiteindelik sy finale beslag gekry het. In hierdie pragtige geloofs-uitspraak duik die vraag egter onwillekeurig op: Waarom is daar in die uitgebreide belydenis oor God die Vader en God die Seun, slegs een sinnetjie oor die Heilige Gees? Daar staan slegs: "Ek glo in die Heilige Gees." Is dit dalk omdat ons in onvermoë bly om Sy taak behoorlik te omskryf? Of is dit omdat Hy deur gelowiges onwillekeurig op die agtergrond geskuif word? Dit is verblydend dat ons kan bely dat ons in die Heilige Gees glo, maar ons moet daarteen waak dat ons Hom nie Sy ereplek misken nie. 'n Sekere teoloog, by name GJ Sirks, het jare gelede al geskryf dat die Heilige Gees, "de Assepoester der theologie" genoem word. Wat ook al die rede vir 'n enkele sin oor Hom in die Belydenis, die Heilige Gees is baie belangrik vir die Kerk van Jesus Christus. Iemand anders, JJ von Allmen, het hierdie belangrike opmerking gemaak: "The Spirit apart from the Church would be energy without any instrument through which it could operate. The Church without the Spirit would be a body without a principle of life. Therefore in the New Testament the Spirit and the Church are always conjoined and are insepa-rable from each other." In 'n radioboodskap hoor ek 'n predikant sê God die Vader is God oor ons, Jesus is God met ons, en die Heilige Gees is God in ons. Ja, die Heilige Gees het 'n baie belangrike funksie om te vervul deur permanent in die gelowige te wees. Hy moet ons leer, Hy moet ons dag vir dag lei, Hy moet ons troos, bemoedig en help. Hy is God wat by en in ons woning kom maak het. In Johannes 14:16 - 17 staan daar dat die Heilige Gees gekom het om met (Gr. = meta) ons te wees, by (Gr. = para) ons te wees, en in (Gr. = en) ons te wees. So omspan die "in ons wees" die ganse Godheid se teenwoordigheid en betrokkenheid by die gelowige en word Hy waarlik God met ons! Die Heilige Gees beklee dus 'n belangrike plek in die Kerk van Jesus Christus. Die begrip Parakletos kan volgens Sy veelvuldige funksies, verskillende betekenismoontlikhede inhou, nl. Getuie, Helper, Advokaat, Trooster, Ondersteuner, Aanklaer, Bemoediger, Opvolger, asook Verteenwoordiger van Jesus. Kom ons dank God die Vader vir die Heilige Gees, en maak werklik ruimte vir Hom in die Kerk van Jesus Christus! - Dr. JJ Venter |