EIENSKAPPE VAN WARE CHRISTENVRIENDE | |
  |
Hoe lyk ware Christenvriendskap? Kom ons ontleed so 'n vriendskap aan die hand van maklik herken-bare eienskappe: CHRISTENVRIENDE SE LIEFDE IS VOL OPOFFERING Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê (Joh. 15:13). Jesus is die beste Voorbeeld van 'n ware Vriend. Sy liefde vir ons is vol opoffering, nooit selfsugtig nie. Hy het Sy ware liefde deur Sy wonderwerke van genesing gedemonstreer en verder deur die nederige daad om die voete van Sy dissipels te was, en uiteindelik deur Sy lewe vir ons aan die kruis af te lê. CHRISTENVRIENDE VERTROU MEKAAR VOLKOME Maats kan jou breek, maar daar kan ook 'n vriend wees wat nader is as 'n broer (Spreuke 18:24). Hierdie spreuk herinner ons daaraan dat 'n ware Christenvriend betroubaar is. Andersyds waarsku dit ons dat ons moet verwag om net 'n paar lojale vriende te hê wat ons volkome in ons vertroue kan neem. Om mense te maklik te vertrou, kan jou breek. Wees dus versigtig wie jy vertrou. Met tyd sal jou ware Christenvriende hulself bewys deur by jou te staan, selfs meer as 'n broer of suster. CHRISTENVRIENDE BOU MEKAAR OP Yster slyp yster, vriende vorm mekaar (Spreuke 27:17). Ware Christenvriende sal mekaar emosioneel, geestelik en fisies opbou. Van ons Christenvriende ontvang ons krag, bemoediging en liefde. Ons praat, ons huil, ons luister. Maar soms moet jy ook moeilike dinge sê wat jou dierbaarste vriend nodig het om te hoor. Juis omdat julle mekaar vertrou en aanvaar, is jy miskien die enigste persoon wat tot jou vriend kan deurdring, want jy weet hoe om 'n moeilike boodskap op 'n Christelike manier oor te dra. Op sy beurt help hierdie vriend om jou te vorm sodat jy meer bruikbaar vir God kan wees. 'n Ware Christenvriend is 'n seldsame skat. So 'n vriendskap neem tyd om te ontwikkel, maar in die proses groei ons om meer aan Christus gelykvormig te word. GEBED: Here, help my om toegewyd in my vriendskappe te wees. Ek bid dat ek meer vir my vriende sal opoffer, dat hulle my sal kan vertrou en dat ek deur U genade my vriende sal toelaat om my te vorm. Amen. - Xanthe Galanis |