SY BLOED BRING GENESING! | ||
  |
![]() Marietjie Leach Dit was 'n normale Dinsdagoggend. Ek het soos gewoonlik 10 km gaan draf voordat ek gaan werk het. Die aand het ek Bybelstudie gedoen, in die bed geklim en op my sy gedraai om te slaap. Dit was asof ek net wou wegdryf, maar dit was asof iets - ek glo dit was die Heilige Gees - my gewaarsku het dat alles nie normaal was nie. Ek het dadelik regop gesit en begin voel hoe die hele linkerkant van my lyf begin doodgaan. Dit het soos naalde en spelde gevoel. My eerste gedagte was, "Is ek reg as Jesus my nou moet kom haal?" Ek het vir my man, Ronnie, gesê dat ek nie lekker voel nie. Hy het my gevra of ek enige pyn het, maar ek het geen pyn gehad nie. Hy het dadelik vir my disprins gegee om te drink. Daarna is ons na Medi-City se buitepasiënte-afdeling waar die dokter bevestig het dat ek 'n beroerte gehad het. Hy het egter gesê dat hy my nie sou laat opneem nie, maar dat Ronnie my net moes dophou vir die volgende 24 uur. Woensdag het ek beter gevoel en werk toe gegaan. Later het ek ligte golwe uit die hoek van my linkeroog begin sien. Ek het eers gedink dit is die rekenaarskerm. Ek wou met my hand my oog toemaak om die golwe te blokkeer. Intussen het Ronnie die bestuurder geskakel en haar vertel wat die vorige aand gebeur het. Die dame wat saam met my werk, het haar terselfdertyd vertel dat ek 'n hoofpyn het, asook dat ek golwe sien. Ronnie het my kom haal en ons is terug na die ongevalle-afdeling waar hulle bloed getrek het vir toetse. Daarna is ek opgeneem in die hospitaal waar ek ook 'n breinskandering moes kry. Intussen het my dogter, wat in Londen woon, my geskakel en gesê dat die Heilige Gees haar vieruur die oggend wakker gemaak het sodat sy vir my moes begin bid. Eers kon sy nie verstaan hoekom sy daardie tyd van die oggend vir my moes bid nie, maar sy was gehoorsaam. Sy vertel hoe sy in haar geestes-oog gesien het hoe Jesus se bloed (wat genesing bring) deur my are vloei. Dit was soos 'n rivier wat in strome tussen die berge vloei. Die Donderdagoggend toe die dokter my bloeddruk neem, was dit normaal en dit was vir my dogter bevestiging dat haar gebed beantwoord is. Die dokter het gesê dat dit 'n bloedklont was wat oor my brein gegaan het. Ek is die Donderdagmiddag ontslaan sonder enige nagevolge en het die Maandag weer begin werk. Ek wil net aan die Here al die eer en aanbidding bring vir al die wonderwerke wat Hy al in my lewe gedoen het. Ek glo dat hierdie ‘n wekroep was vir my, want die afgelope paar weke was ek net te moeg in die aande om sinvol Bybel te lees en het dan ook aan die slaap geraak onder gebed. Ek dink ook ek het te veel van my aandag begin vestig op aardse dinge, en vergeet dat God prioriteit nommer een in my lewe moet wees, en hoe belangrik Hy vir my behoort te wees! |