NUWE HOOP... MET DIE REGTE PRIORITEITE IN JOU LEWE
  Hoe lyk jou prioriteite in jou lewe? Handré de Jongh deel vandag sy getuienis dat God wel daarin belangstel:

Handré: "Dit was rondom 19:00 op Paassondag 2009 toe ek 'n oproep van my pa kry. Hy en my ma was op pad terug Beaufort-Wes toe nadat hulle die naweek saam met ons op Hartenbos gekuier het.

'n Koedoe het voor die motor ingespring en my ma teen die kop getref. Terwyl ek met my pa oor die foon gesels het, kon ek op die agtergrond hoor hoe my ma na haar asem snak. In skok het ek dadelik ons familielede regdeur die land gebel en almal het saam vir my ma begin bid.

By die hospitaal in George aangekom, was my ma se kop vier keer die normale grootte. Elke been in haar gesig was gebreek en haar brein was beskadig. Die dokters het haar aan asemhalings-masjiene gekoppel en ons 48 uur gegee om die familie bymekaar te kry om haar te groet, aangesien hulle gedink het dat sy dit nie sou maak nie.

In die wagkamer van die hospitaal het ons as familie hande gevat, nagmaal gebruik en vir 'n wonderwerk gebid. Ons het gevoel dat dit nog nie haar tyd was om te sterf nie. Twee dae later het sy regop in haar bed gesit. Dit was egter 'n tydelike opflikkering, aangesien sy weer in 'n diep koma verval het en weer aan masjiene gekoppel moes word.

Al het die dokters my ma breindood verklaar, het ons vir die volgende drie maande aangehou bid vir haar genesing. Ons het heeltyd met haar gesels al het ons nie geweet of sy ons kon hoor nie. Wat fassinerend was, is dat sy elke keer gereageer het wanneer ons van Jesus Christus gepraat het of vir haar gospelmusiek op haar iPod gespeel het. Haar liggaam het egter agteruitgegaan omdat haar brein nie meer gefunksioneer het nie.

Ná verskeie operasies het my ma na drie maande skielik wakker-geskrik. Die dokters was heel-temal verbaas, aangesien sy geen breinskade gehad het nie!

'n Tyd later het ek my ma gevra of sy ooit tydens haar koma iets van die hemel ervaar het. Sy het geantwoord dat sy nie in die hemel was nie, maar dat Jesus Self by haar was. Sy het in 'n stadium bewus geword van 'n groot Mansfiguur langs haar bed. Hy het die grootste, sterkste Hand na haar uitgesteek wat die sagste aanraking gehad het. Sy het onmiddellik geweet dat dit Hy was. Die volgende oomblik het hulle saam langs die see gestap en Hy het met haar gepraat.

Jesus het aan my ma genoem dat haar prioriteite in die lewe verkeerd was. My ma was verbaas. 'Hoe bedoel U, Jesus?' wou sy weet. Hy het geantwoord: 'My dogter, Ek is nie altyd jou eerste prioriteit nie. Jou kleinkinders is. Dan jou kinders. Ek is derde. Jou gemeente vierde en jou man vyfde.'

Al was my ma lief vir my pa en het hulle dinge saam gedoen, het sy besef dat Jesus heeltemal reg was. 'Maar hoe wil U hê moet die lys dan lyk?' het sy gevra. Jesus het haar geantwoord: 'Ek wil jou Eerste Prioriteit wees te alle tye en in alle omstandighede. Jou man moet tweede wees.' My ma het dadelik gevra: 'Nou wat van my kinders en kleinkinders?' Hierop het Hy geantwoord: 'Jou kinders en kleinkinders is die vrug van die verbond met jou man. Julle twee staan voor my. Juis hierom moet hy jou tweede prioriteit wees. Jou kinders kom derde, dan jou kleinkinders en die gemeente kom vyfde.'

My ma vertel dat die liefde en deernis waarmee Jesus met haar gepraat het só oorweldigend was dat sy onmiddellik haar prioriteite wou verander.

Ek was langs haar bed toe my ma wakker geskrik het. As haar oudste seun wat haar goed ken, het ek aangeneem dat sy eerste na ons kinders en die kleinkinders sou vra. Sy het nie. Sy wou dadelik weet waar my pa is.

Met trane in sy oë het hy haar hand langs haar bed geneem en haar op haar wang gesoen. Dit was my eerste ervaring van 'n verandering in my ma se lewe. In die volgende paar maande het ek beleef hoe haar gebedstye van die gewone tien minute van vroeër in etlike ure verander het.

Sy en my pa is meer verlief as ooit vantevore. Haar verhouding met ons kinders en die kleinkinders is steeds sterk en sy is steeds baie aktief in haar gemeente, maar hierdie keer is daar 'n duidelike balans in haar lewe. Haar prioriteite is reg!

Al het ons aanvanklik nie ver-staan waarom God die ongeluk toegelaat het nie, beleef ek vandag hoeveel lewens verander word en hoeveel huwelike gered word wanneer mense my ma se getuienis hoor en hulle op hul beurt hul eie prioriteite begin verander. Die aaklige ongeluk van vroeër bring dus vandag oneindig baie genesing. Alle eer aan God!"

Handré is reg. God is 'n God van orde en Hy wil hê dat ons prioriteite reg moet wees. In Matt. 6:33 lees ons: "... soek eers die koninkryk van God en sy gereg-tigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word." (1953-hersiening) En in Lukas 11:34 staan geskryf: "... waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees." (1953-hersiening).

Hoe lyk jou prioriteite in jou lewe vandag? Kom ons plaas Hom eerste en maak dan opnuut ook moeite met die huweliksverbond wat ons voor Hom gesluit het. Sterkte!

Vader God, baie dankie vir U teenwoordigheid in my lewe. Wys my asseblief waar my prioriteite nie reg is nie en lei my deur U Heilige Gees met wysheid en krag om dit reg te stel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
vers@versndag.co.za

Indeks     Index