PRIORITEITE
  Mans het baie verskillende idees omtrent wat hulle prioriteite moet wees. Elke vrou voel egter dat sy boaan haar man se prioriteitslys behoort te wees - net onderkant God. Ek het egter ontdek dat 'n vrou wat wil hê dat haar man se prioriteite in daardie volgorde moet wees, seker moet maak dat hare ook in daardie volgorde is. Met ander woorde, as jy wil hê dat jou man jou as 'n prioriteit moet stel bo werk, kinders, vriende en aktiwiteite, moet jy ook dieselfde vir hom doen. As God en eggenoot nie onteenseglik die top prioriteite in jou lewe is nie, sal jou man minder aansporing hê om dit ook so in sy lewe te stel.

Ek ken daardie stryd om prioriteite in die regte volgorde te hou baie goed, veral wanneer daar nog klein kindertjies betrokke is. Kinders se behoeftes is onmiddellik en dringend en dis jy wat hulle versorg. 'n Man is, per slot van sake, mos 'n volwassene wat hopelik vir homself kan sorg.

Selfs al is daar geen kinders nie, is dit moontlik om deur werk, huis, vriende, projekte, belangstelling en aktiwiteite besig gehou te word. Te midde van alles wat jou tyd en aandag in beslag neem, is dit moeilik om te keer dat jou man laer af op die lys beland - of ten minste voel hy het.

Gelukkig het prioriteite nie altyd te doen met die hoeveelheid tyd wat daaraan bestee word nie, anders sal enigiemand wat veertig uur per week werk, God tweede plaas ná hulle werk tensy hy of sy ten minste agt uur per dag bid.

'n Vrou kan ook op geen manier soveel tyd aan haar man bestee as aan 'n jong kind sonder dat die kind verwaarloos word nie. Wat jou man betref, is dit nie soseer 'n geval van hoeveel tyd jy aan hom bestee nie, maar dat jy wel tyd daaraan bestee om hom te laat weet en voel hy is prioriteit.

Bloot deur hom heel eerste soggens met 'n glimlag en 'n drukkie môre te sê, kan hom laat voel hy is belangrik vir jou. So ook deur hom te vra, 'Is daar iets wat ek vandag vir jou kan doen?' (En dan, as hy vir jou sê, te onthou om dit te doen.) Sê ook vir hom dat jy vir hom bid en vra hom of daar iets spesifieks is waarvoor jy moet bid. Selfs deur van tyd tot tyd aandag aan hom te gee te midde van die baie ander dinge wat jy besig is om te doen, word hy verseker dat hy nog steeds boaan jou lys is.

Prioriteite het te doen met die posisie in die hart. Beplande tye net vir julle twee - 'n afspraak, 'n nag of twee weg, 'n aandete alleen, tyd by die huis sonder enige kinders of vriende - dit alles sê vir hom dat hy 'n prioriteit in jou hart is. As jy wil hê jou man moet jou meer liefhê, moet jy hom meer liefhê. Dit werk altyd, veral as jy boonop daaroor bid!

As jy voel jy het eenvoudig nie die tyd en energie om jou man eerste te stel en nog steeds te doen wat van jou verwag word nie, vra God om jou opnuut met Sy Heilige Gees te vul. Stel Hóm eerste en Hy sal jou help om jou prioriteite in die regte volgorde te kry. As jou skedule nie tyd bied om met God deur te bring en uit Sy krag te put nie, moet jy jou prioriteite hersien en 'n nuwe skedule opstel. Die oue werk nie!

In my man se besigheid sien ons dikwels mense wat vinnig sukses behaal. Die probleem daarmee is dat 'n gees van begeerte na méér sukses, méér mag, en méér rykdom gewoonlik daarmee gepaardgaan. As hierdie mense nie 'n spesiale poging aanwend om regte prioriteite te handhaaf nie, word hulle deur hulle hoogmoed gelei, en belê hulle in die lokstem van hebsug. Hulle glip in snelgang en laat God, gesin, kerk en vriende agter in hulle stofstreep!

Wanneer hierdie vervlietende sterre dan terugkom aarde toe, is dit dikwels 'n harde landing! Ons wil nie hê dat dit selfs op klein skaal met ons mans gebeur nie. Bid dat jou man God altyd eerste sal stel, jou tweede, en die kinders derde. Dan sal sy prioriteite altyd reg wees, ongeag wat in sy lewe aangaan, en daar sal meer vrede en geluk vir julle albei voorlê.

Gebed:
Here, ek verklaar dat U Here van my lewe is. Help my om U elke dag eerste te stel en my prioriteite in volmaakte volgorde te plaas. Wys my hoe om my man voor my kinders, werk, familie, vriende, aktiwiteite en belangstellings te plaas. Wys my wat ek op hierdie oomblik kan doen om aan hom te demonstreer dat hy hierdie posisie in my hart beklee. Stel daardie tye toe ek hom rede gegee het om dit te betwyfel, reg. Sê my hoe om in alles my prioriteite so te stel dat daardie dinge wat my aandag weglok, of geen blywende doel of waarde het nie, nie my tyd in beslag sal neem nie.

Ek bid dat my man se prioriteite ook in volmaakte volgorde volgens U wil geplaas sal word. Wees U die Here en Heerser van sy hart. Help hom om 'n eenvoudige lewe te kies wat hom tyd sal bied om alleen met U, Here, te wees, 'n plek waar hy elke dag stil in U teenwoordigheid kan deur-bring. Spreek tot hom om van U Woord, gebed en lofprysing 'n prioriteit te maak. Help hom om my en ons kinders groter promi-nensie in sy hart te gee as sy loopbaan, vriende en aktiwiteite. Ek bid dat hy U eerste sal stel - sy alles aan U ondergeskik sal maak - want ek weet dat as hy dit sou doen, die ander aspekte van sy lewe volmaak inmekaar sal pas.
- Wanneer Vroue vir hul Mans Bid, Stormie Omartian, Struik Christelike Boeke Bpk., 2000.

Indeks     Index