EK LEEF IN GEBROKENHEID... | ||
  |
Ek leef in gebrokenheid teenoor Sy volmaaktheid. Ek sien brokkies en stuk-kies… fragmentaries, terwyl Hy die totaliteit in oënskou neem. In my mensheid worstel ek met fragmente van die werklikheid, en daarom verstaan ek gewoonlik nie wat mét my gebeur en wat óm my gebeur nie. Ek kan nie die volledige prent sien nie. Die enigste hoop wat ek het tot ware begrip, is die Heilige Gees wat God in my gedeponeer het. Tog is is my waarnemingsvermoë nog gebrekkig - net soos deur 'n spieël in 'n raaisel - want ek bestaan nou nog in 'n stukkende wêreld. Hoe kan ek die volheid, en dít wat heel is, dan begryp? Sal Hy my ophef deur Sy Gees sodat ek net íéts van die groter werklikheid kan verstaan? Wat is Sy doel met my op hierdie vernielde aarde? Eens die vol-maakte skepping van God? Sal Sy Gees oor my kom broei soos Hy gebroei het oor die chaos tydens die skepping in die begin? (Gen. 1:2). Toe het daar orde gekom. Daar het lig gekom uit die duisternis. Alles was goed, want Sy Gees het die verskil gemaak. So sal daar ook in my gees lig kom, want God is Lig, en geen duisternis is in Hom nie. Om die fragmente van dít waarmee ek worstel, bymekaar te bring, het ek Sy wysheid nodig, wat Hy gee as ek daarna vra. Wanneer my aardse bestaan ten einde kom en ek in Sy heerlikheid ingaan, sal ek ten volle ken, soos ek ook ten volle geken is (1 Kor. 13:12). Dan sal ek as skepsel net voor my Skepper kan neerval en Hom aanbid… en aanbid… Want een ding wat ek dan ten volle sal besef, die een fragment van die werklikheid wat ek dan volkome sal verstaan, is my kleinheid teenoor Sy grootheid en almag. Daarna sal die ewigheid voorlê om méér en méér van GOD te leer, en sal daar voortgang van my aanbidding wees. Want Hy is regdeur die ewigheid só groot en ek só klein. So sal Hy ook deur al Sy heiliges en al Sy engele aanbid word, want Hy is volmaak God! My enigste hoop terwyl ek op hierdie aarde, in hierdie gebrokenheid leef, is om by Hom te skuil. Al verstaan ek nou nie alles nie, begelei Sy Gees my tot dieper begrip en kan ek in Hom tot rus kom en in Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, lewe! © Dr. JJ Venter |