DIE HERE VERTRAAG NIE SY BELOFTE NIE...
  Ons lees in die tweede brief van Petrus hierdie woorde: "Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand" (2 Pet. 3:8-10).

God is lankmoedig teenoor die mens, wat op sy beurt van nature ongeduldig is. Die mens wil hê dat alles vinnig moet gebeur. Die mens kan nie wag nie. Daarom leef ons ook in 'n "kits-eeu" waar alles oombliklik moet plaasvind. Ons leef van kitskos, kitskoffie, verwag kitsvermaak, trouens, ons leef 'n kitslewe. Dit veroorsaak dat ons uit pas raak met God se lankmoedigheid.

Wanneer Jesus sê: "En kyk, Ek kom gou" (Openbaring 22:12), verskil óns "gou" van Sý "gou". Jesus het óók gesê: "Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.
In die huis van My Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is" (Joh. 14:1-3).
Jesus het verder gepraat van die tekens van die tye wat dui op Sy wederkoms (Matt. 24 - 25). Daarby kom ook God se begeerte dat alle mense moet deel in Sy saligheid. Hy "wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2 Pet. 3:9). Let wel, dit is Sy begeerte vir alle mense, nie Sy bepaling nie, want daar is baie wat nie gehoor gee aan Sy oproep nie, en dan verlore gaan.

Omdat God begeer dat alle mense gered moet word, is Hy lankmoedig met ons. Dit is asof Hy die einde van die wêreld uitstel, asof Hy die tyd rek om vir almal 'n regverdige kans te gee om by Jesus uit te kom. Hy is só lief vir die wêreld en wil hê dat elke mens sy saak met Hom moet regmaak deur Jesus Christus wat vir ons gesterf het (Joh. 3:16).

Dit wat die mens as vertraging sien, is in werklikheid God se lankmoedigheid. Moet jou egter nie by die spotters aansluit of deur hulle beïnvloed word nie: "Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af" (2 Pet. 3:3-4).

Die gesindheid van ware gelowiges is egter anders: "… julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas" (2 Pet. 3:12). Sien jy ook uit na Sy wederkoms? Verwag dit, ver-haas dit met jou hele hart! Laat ons ook uitroep: "…ja kom, Here Jesus!" (Openbaring 22:20).

Jesus staan steeds met wyd uitgestrekte arms en roep elke mens toe: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee" (Matt. 11:28). Het jy al rus in Jesus gevind? Is jy gereed vir die wederkoms van Jesus Christus? Indien jy vannag tot sterwe sou kom, waar sal jy wees? Daar ís sekerheid te vind op jou knieë voor Hom. Joh. 1:12 sê: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is."

In die laaste hoofstuk van die Bybel staan geskryf: "En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet" (Openbaring 22:17).
Liewe leser, KOM NOU na HOM toe en neem Sy vrye gawe van redding aan!

© Dr. JJ Venter

Indien u meer wil weet oor die
Wederkoms van Jesus,
asook Bybelse profesieë
rakende die Eindtyd, koop
gerus ‘n kopie van die boek "5
voor Middernag?" Sien
advertensie hiernaas vir
kontakbesonderhede.




Indeks     Index