WANNEER IEMAND BID...
  Jack McAlister, stigter van World Prayer Network, vertel van 'n sekere mej. Baker wat Engeland bykans 100 jaar gelede (1920) as sendeling verlaat en na Fuzhou in China gegaan het om te bid vir die redding van Chinese.

Vir tien jaar het sy daagliks gebid sonder om een bekeerling te sien en daarna teruggekeer na Enge-land. In 1930 het herlewing in China uitgebreek en hierdie herlewing het ook 'n effek in Fuzhou gehad. Die eerste bekeer-ling was Leland Wang. Die tweede was Watchman Nee wat een van China se grootste predikers en geestelike skrywers geword het. Sy boeke word vandag nog in baie lande met groot vrug gelees. "The Little Flock" gemeenskap wat deur hom gevestig is, oefen vandag steeds 'n geweldige invloed in China uit.

Die derde bekeerling was die vader van Myra Chang, een van Jack McAlister se kosbaarste voorbidders. Die vierde bekeer-ling was "Faithful Luke". Die vyfde en sesde bekeerlinge was Simon Meek en John Sung. John Sung was 'n kragtige evangelis wat onverskrokke gewerk en tien-duisende Chinese tot bekering sien kom het.

Hierdie bekeerlinge was die direkte vrug op één intersessor se gebede, één intersessor wat daagliks voor die troon van God gestaan het sonder om enige vrug te sien.

Duisende het honderde kilo-meters gekom om die Woord van God in Fuzhou te hoor. Die hele provinsie Fujian is mettertyd met die Evangelie bereik en iewers in hierdie proses was daar één intersessor uit Engeland wat vir tien jaar oënskynlik sonder enige vrug of deurbraak gebid het. Min dinge is meer seker as dat God gebed sal antwoord, maar: Hy antwoord nie gebede wat nie gebid is nie!

Één persoon het deur volhardende gebed 'n klein mosterdsaadjie geplant wat later 'n groot boom geword het. Wat is die belang-rikste beginsel? Hier was iemand wat besluit het dit is nie genoeg om niks te doen nie.

Hier was één vrou wat gekies het om téén die gety in te gaan, om medewerker van God te word. Tien jaar lank het sy sonder enige sigbare sukses tot God geroep. Haar gebede is egter deur die lewende God gehoor.

Ek sien in my geestesoog hoe sy by die hemelpoort staan en daagliks honderde Chinese daar sien instroom: die "kinders", "kleinkinders" en "agterklein-kinders" van haar gebedsarbeid in China!

Uit: Teen die Gety, Bennie Mostert, CUM, 2001.

Indeks     Index