DIE KUUR VIR HOOGMOED
  Jesus Christus, die Seun van God, gebore uit 'n maagd, heilig en sonder sonde, het aarde toe gekom om aan ons te kom toon hoe om oorwinning oor onsself - oor die "ek" - te verkry. Jesus het 'n nuwe lewensrigting aangetoon: "En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as 'n losprys vir baie" (Matt. 20:24-28).
"Ek 'n dienskneg? Jy maak seker 'n grap!" Ons stel nie belang as iets nie tot ons verheffing kan lei nie. Jesus wys ons daarop dat selfsug slegs verban kan word deur die teenoorgestelde gesindheid te openbaar. Instede daarvan om voor in die tou te staan, sê Hy ons moet agter inval. Moenie verwag dat ander mense jou bedien nie, bedien hulle! Die begrip is maklik, die uitvoering daarvan baie moeilik!
Iemand het aan Leonard Bernstein, die wêreldberoemde dirigent, tydens 'n televisie-onderhoud die volgende vraag gestel: "Wat is die moeilikste instrument om te bespeel?" Hy het met humor geantwoord: "Tweede viool!" Hy het gesê dat hy baie kunstenaars kon kry wat die eerste viool wou speel, maar hulle wou nie graag met soveel entoesiasme tweede viool speel nie. Dit het ook gegeld ten opsigte van die Franse horing en die tweede fluit. Hy het afgesluit: "Dit is 'n probleem, want as daar nie 'n tweede instrument is nie, is daar geen sprake van harmonie nie!"
Jesus is die uitstaande voorbeeld wanneer dit kom by 'n onbaatsugtige lewenswyse. Paulus skryf in Filippense: "Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was..." (Fil. 2:3-5). Watter kontras vorm dit met vandag se lewensfilosofie van "Ek … my … myne! Jesus het dood-eenvoudig net gesê dat ons moet dien, aan ander moet dink, aan ander moet gee en hulle moet liefhê.

Ds. Charlie Webster vertel van sy dae by die Princeton Kweekskool:
'n Professor in Etiek het vrywilligers gevra om 'n spesiale opdrag uit te voer. Om twee namiddag het vyftien studente hul by die Biblioteek aangemeld. Hy het hulle in drie groepe van vyf elk ingedeel en aan hulle koeverte oorhandig wat die nodige instruksies bevat het.
Die eerste groep moes onmiddellik oor die kampus beweeg na Stewartsaal. Hulle het net vyftien minute gehad om daar te kom, anders sou hulle gepenaliseer word. Hulle was die "Baie Haastige Groep".
Twee minute later het die professor aan die tweede groep hulle koeverte gegee. Hulle opdrag was dieselfde, maar aan hulle is 45 minute gegee om daar te kom. Hulle was die "Minder Haastige Groep".
Daarna het hy koeverte aan die derde groep besorg. Ook hulle opdrag was dieselfde. Hulle is egter drie ure gegun om by die Saal te kom. Hulle was die "Stadige Groep".
Sonder hierdie studente se medewete het die professor met drie dramastudente afgespreek om hulle op pad te ontmoet en hulself voor te doen as mense in nood. Een van die dramastudente het daar rond-gedwaal, sy kop in sy hande vasgehou en gekreun en gesteun van die "pyn". 'n Entjie verder het 'n ander een op die kapel-trappies gelê, met sy kop na onder asof hy bewusteloos was. Die derde student was by die eindpunt en het op die trappe van die Stewart-saal 'n "epileptiese aanval" gehad. Dit is interessant om te weet dat uit die eerste groep nie een van die studente stil gaan staan het om te vra of hulle kon help nie! Uit die tweede groep het twee uit vyf hulp aangebied en uit die derde groep al vyf!
Ds. Charlie het beduie dat die "Barmhartige Samaritaan" hulp aangebied het omdat hy dalk ook tot die "Stadige Groep" behoort het. Hy was rustig op pad terwyl die professionele godsdienstiges van Jesus se tyd aan die "Baie Haastige Groep" behoort het en dus nie "tyd" gehad het vir onderbrekings nie! Hulle dagboeke was seker vol afsprake wat nie die nood van die onmiddellike ingesluit het nie!
Dit is maar net 'n ander manier waarop ons ons selfsug toon. Niks en niemand moet ons program onderbreek nie. Ons moet egter verander. Al moet ons 'n stadiger pas begin volg en meer onderbrekings verduur. 'n Onselfsugtige lewenswyse is baie opval-lend in die samelewing, omdat so min mense werklik onselfsugtig is!
Kan ek u aandag vestig op ons definisie van die liefde: Liefde is 'n aksie gerig tot 'n ander persoon en gemotiveer deur ons verbintenis met Jesus Christus. Liefde word vryelik gegee sonder enige wins-motief in gedagte.

[Uit: Geen Groter Liefde, Robert Strand, VG Uitgewers, 1996].

Indeks     Index