TOE DOEN GOD DIT WEER! | |
  |
Hennie du Preez (018 294 5587) Ek kyk met deernis na Casper* wat pas van 'n hospitaalsuster verneem het dat sy moeder gesterf het. Hoe onverwags kom die dood tog! Ek is gevra om in die hospitaal vir ou Tannie Smuts* te gaan bid omdat sy ernstig siek was en daar vir haar lewe gevrees is. Ek en haar seun is toe saam na die saal waar sy lê, maar toe ons daar instap, besef ek dadelik ons is te laat. Ek sien dit op die gesig van die suster wat ons tegemoetloop om ons die tyding mee te deel. Casper kyk haar in ongeloof aan. "Maar, sy…" begin hy hulpeloos praat. Sy skud net haar kop simpatiek en bied aan om ons na die bed te vergesel. Die suster verwyder die bedekking van Tannie Smuts se gesig en ek verwonder my opnuut oor die kalmte wat die dood bring. Maar ek ervaar 'n ongekende stryd in my innerlike wese. Ek weet ek kan nie oordeel oor ander se lewens nie, maar ek het die ou moeder geken en het geweet sy het nie 'n getuienis van wedergeboorte gehad nie. "Here," bid ek in my gemoed, "as ek U Woord reg verstaan, is hierdie moeder verlore. Alleenlik as sy Jesus Christus as haar persoonlike Saligmaker aanvaar en as wedergeborene vir Hom geleef het, dan was sy gereed vir die ewigheid. Maar ek, wat haar lewensomstandighede ken, voel 'n onrus omdat ek nooit enige getuienis of vrug of ander tekens van saligheid by haar gesien het nie." Saam met die gevoel van kommer, ervaar ek egter 'n opwelling van geestelike krag en beslistheid - 'n wete dat hierdie nie die einde van haar lewe mag wees nie. Ek versuim ook nie verder nie, maar terwyl ek die inspraak van die Here se Gees voel, kniel ek neer voor die bed en begin na die Here roep. Allerlei gedagtes hardloop deur my kop terwyl ek bid. Ek dink daaraan dat dit verregaande onkunde sou toon as 'n Christen beweer die opwekking van dooie mense behoort 'n alledaagse, natuurlike gebeurtenis te wees. Daar is geen Skrif-tuurlike grond vir so 'n bewering nie. Die feit is dat elke mens die een of ander tyd moet sterwe en daarna voor God moet staan (Heb. 9:27). Retrospektief besef ek dat die gevoelens van twyfel en onsekerheid wat my daar by die bed wou oorweldig, 'n natuurlike reaksie was. 'n Mens voel maar altyd dat die dood finaal is. Tog het Jesus Christus en Sy dissipels by verskeie geleenthede dooies opgewek. Ek dink egter wanneer Jesus in bv. Matt 10:8 dit as 'n opdrag aan Sy dissipels gee, dit beteken dat die uitvoering daarvan onderworpe is aan God se leiding. Daar kan in die Raad van die Here verskillende redes wees waarom Hy sommiges uit die dood lewend wil maak. Dié redes kan Hy deur Sy Gees aan Sy kinders bekend maak, sodat hulle onder Sy leiding en deur Sy krag so 'n wonderdaad kan verrig - altyd natuurlik tot Sy eer. Dit is vir my werklikhede en nie debatteerbaar nie. Watter ander perspektiewe ook al mag bestaan, wat van belang is, is dat God op die troon is en sulke wonderwerke tot Sy verheerliking kan laat plaasvind. "Here," bid ek ernstig daar voor die hospitaalbed, "U weet meer van hierdie ou moeder as ek. Moet tog nie toelaat dat sy 'n troostelose ewigheid tegemoetgaan nie. Sover my kennis strek, het sy U nie as haar persoonlike Saligmaker geken nie, maar ek pleit by U om haar nog 'n kans te gee." Terwyl ek in geloof na die Here roep, maak ek my oë oop om die wonderwerk te sien. Ek het pastoor Bennie van der Walt langs my pa se lyk in aksie gesien. Ek glo as ek in God se wil vra sonder om te twyfel, ek Sy heerlikheid sal aanskou. En op daardie oomblik gebeur dit weer! Eers is daar die enkele roering onder die laken, en toe vloei daar lewe van God deur die lewelose liggaam… Drie dae later sit sy in die kerk en kom kragdadig tot bekering. Nog vier dae later, kom haal die dood haar sonder dat die angel van die sonde haar kon vernietig. Ek sien die Godswoord van die apostel Paulus in 1 Kor. 15:54 in heerlikheid afgeëts: "Die dood is verslind in die oorwinning." (*Name is verander om identiteit te beskerm). [Uit: God is op die Troon, Jannie Hough, Creatix Boeke, 2009]. |