VREUGDE IS OM GOD TE LOOF!
  "Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys solank ek lewe, ek wil die lof van my God besing solank ek daar is" (Ps. 146:1-2).
Hoe meer jy die Here loof, hoe groter groei jou innerlike vreugde en hoe makliker sal jy ander mense kan aansteek om óók die vreugdevonke wat net van God kan kom, uit te straal na die wêreld daarbuite.
Vreugdemense kry dit selfs reg om God te bly loof en prys, al gaan dit hopeloos. Só onderteken die Amerikaanse skrywer, Joni Eareckson, alhoewel sy van haar nek af verlam en baie dae glad nie gesond is nie, elkeen van haar sketse (wat sy met haar mond doen) met "Joni PTL" - die laaste drie letters staan vir "Praise the Lord".
Ongelukkig word lof in ons moderne opset dikwels goedkoop gemaak. As ons die radio of TV aanskakel, luister ons na vurige lofredes oor alles van waspoeiers tot politici. Ons het al geleer om hierdie aanprysings met ‘n knippie sout te neem, omdat die meeste van hulle nie heeltemal waar is nie. Lof aan God verskil hemelsbreed hiervan. Hy is ons lofsange waardig.
As jy God na behore wil loof, moet hierdie lof uit jou hart kom. Lof begin dáár waar jy weer in verwondering staan voor die wonders van God se skepping, daar waar jy jou dors na God opnuut ontdek. Wanneer jy besef hoe uitsonderlik dié God is wat jy aanbid en hoe groot Sy werke is, sal die lof vanself in jou opwel - sodat jy nie anders sal kán as om dit in ‘n jubelende loflied uit te spreek nie.
Uit: Vonkelvreugde, Nina Smit, Carpe Diem Media, 2001.

Indeks     Index