'N MAGTIGE BEWEGING VAN GOD SE HAND | |
  |
Mede-Christene, al kom hierdie boodskap ook 20 keer by jou aan, kan jy elke keer saambid. Ons land begin brand, en niemand het meer raad nie! So baie mense is arm en ly honger, en daar is te min genade en te veel anderpad kyk. "…as My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal ?k uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees" (2 Kronieke 7:14). GEBEDSAKSIE: Wanneer jy hierdie boodskap ontvang, bid sommer net daar waar jy jou bevind. Nadat jy gebid het, stuur jy dit asb. aan soos die Gees van God jou lei. GEBED: Hemelse Vader, ons bid vir berou en bekering. Vader, ons bid vir vergifnis van ons sondes. Ons bid dat U ons mense se geestelike oë en ore sal oopmaak. Ons bid dat U die mense in Suid-Afrika genadig sal wees en sal seën. Ons DANK U vir reën wat reeds geval het en bid dat U GENOEG REËN sal stuur na plekke wat smag daarna. Ons bid ook dat U alle Suid-Afrikaners sal beskerm teen al die geweld en boosheid, en dat daar 'n positiewe verandering in Suid-Afrika sal plaasvind. Ons bid vir 'n Godvresende regering en leiers wat op God sal vertrou en nie op buitelandse invloede nie. Ons bid dit in die Naam van JESUS CHRISTUS. Amen. VERSOEK: Dit maak nie saak wie met hierdie oproep begin het nie, maar dit maak saak wat jy hiermee gaan doen! Mag die Here se genade, liefde en voorsiening oor elkeen van julle baie groot wees! — ooo OOO ooo — Ons het ook die volgende oproep tot gebed van dr. Isak Burger van die AGS ontvang: SUID-AFRIKA HET 'N MAGTIGE BEWEGING VAN GOD SE HAND NODIG! Dit is tyd vir die Kerk in Suid-Afrika om weer bymekaar te kom, in te tree en te bid vir ons land. Daar is magte aan die werk in hierdie land waarvan ons nie altyd bewus is nie. Maar die wapens van ons stryd is nie vleeslik (polities of militêr) nie, maar kragtig deur God om die vestings neer te werp. As deel van 'n algemene oproep tot gebed, versoek ons gemeen-tes om Saterdag 21 Maart (Menseregtedag) opsy te sit om te verenig in voorbidding en gebed vir ons land. Gelowiges kan versamel in hul huise, in kerkgeboue, skoolsale, tente of oop parke om te bid vir die regering - die uitvoerende, wetgewende en geregtelike arms van die regering. Ons kan vir die provinsiale en plaaslike regerings, asook die Nasionale Vervol-gingsgesag bid, vir die SA Polisiediens, Gesondheid- en Onderwyssektore van die samelewing, Eskom, die SAL, die SAUK, Telkom, Nasionale die Posdiens en Transnet. Ons moet God vra om in te gryp in ons land om herlewing en transformasie in ons eie kerk en in elke kerk die land te bring! Ons moet ook die werke van die vyand bind. As God nie genade aan ons bewys nie, waarheen sal ons gaan? Hoe geseënd is ons nie dat Hy ons uitnooi om Hom aan te roep in ons dae van benoudheid: "Roep My aan in die dag van benoudheid; Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer" (Psalm 50:15). |