GEBED IS... |
|
  |
GEBED is die groot krag tot ons beskikking wat die arm van God in beweging bring! GEBED is nie 'n las nie, maar die voorreg van elke ware gelowige! GEBED bring God naby aan ons en sodoende leer ons Sy karakter beter ken en gee ons Hom 'n geleentheid om ons lewens te beïnvloed. GEBED lei tot oorgawe aan God. Ware oorgawe kan nie sonder diepgrondige gebed plaasvind nie. Om te bid beteken ook om die krag van God in my lewe toepaslik te maak. Oorgawe is 'n afstanddoening van myself - 'n ontlediging, 'n verloëning van self, 'n erkentenis aan Hom van my eie onvermoë. Dit beteken om eerlik met Hom te wees en te bely: "Here, in my eie krag kan ek nie." Dan word Sy Woord vir my 'n groot werklik-heid: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee" (Fil. 4:13). Die ewige Kragbron van God is tot my beskikking. Hy neem beheer oor my lewe en help my om die 'onmoontlike' te doen. Dit wat vir my as mens onmoontlik is, is by God moontlik. Ek word Sy hande, Sy oë, Sy voete, Sy spreekbuis, Sy instrument. Leeg-getap van myself, oorgegee aan Christus, openbaar Hy Homself deur my. Daarom het die groot Godsmanne almal baie gebid. Jesus Self het nagte in gebed deurgebring. Paulus het dag en nag gebid. Daniël het soggens, smiddags en saans gebid. Die mense wat die karakter van Jesus die mooiste geopenbaar het en 'n geweldige invloed op die wêreld uitgeoefen het, was mense wat baie tyd in gebed deurgebring het. Martin Luther het gesê: "as ek nalaat om vroeg elke oggend twee ure in gebed deur te bring, kry die duiwel die oorhand oor my. Ek het so baie werk om te doen dat ek nie daarmee kan voortgaan as ek nie drie ure per dag in gebed deur-bring nie." God se krag is tot ons beskikking. Die grootste krag ooit bekend! 'n Biddelose Christen is 'n kragte-lose Christen. 'n Oorgegewe en biddende Christen vermag baie vir God op hierdie aarde. Begin vandag deur u gebedstyd te verleng en kyk waartoe u in staat is! © Huegene Venter |