HOE HET 'HULLE' GEWEET



  Ek wonder soms hoe leeg en eensaam my lewe sou gewees het as die Here nie daadwerklik deel daarvan was nie. Daar was al soveel bonatuur-like ingrypings, soveel teerheid vanaf die kant van die hemel...

'n Motorkar is 'n noodsaaklike ergernis. Met al sy voordele kan hy jou op 'n dag onverwags diep in die pekel laat beland. Dit leer ons eerstehands toe ons ander-sins betroubare voertuig eendag op pad na Kaapstad sommer net handdoek ingooi.

Waaierband. Ons leer daardie dag nog 'n les: die hoogsbeproefde sykous wil nie op alle motors werk nie. Ons motor se 4-liter enjin ruk my sykouse binne enkele sekondes aan repe. Die stukkie vroulikheid het al menige keer as waaierband gedien in minder kragtige enjins. Maar hierdie keer was dit anders...

Soos soveel keer in die verlede, bid ons gesin om hulp. Wat anders? Motors jaag verby. Niemand weet waarom ons van die pad afgetrek het nie. Wat hulle betref, is ons dalk besig om te eet of te rus.

Ons besluit ook ons staan nie langs die pad om iemand se aandag te trek nie. Ons sit in die motor en bel die enigste noodlyn wat ons ken - kode: Jeremia, nommer 333. Ons slaan ons oë op na die Here en maak staat op Jer. 33:3 se belofte: "Roep my aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie."

En toe, terwyl ons nog biddend was, kom 'n motor vir enkele sekondes langs ons tot stilstand. Niemand sê iets nie, maar toe ons na die mense langs ons kyk, steek die persoon aan die passasierskant sy hand met 'n waaierband by die venster uit. Ons gaap hom aan! Toe beweeg die motor weer so rustig soos hy gekom het aan.

Terwyl ek gloei van vreugde, klim my man uit om te kyk of die band geskik is vir ons model motor. Nommerpas! Ons kon dit netsowel by 'n motoronderdele-handelaar bestel het!

Solank ons daardie motor besit het, het die waaierband nooit weer gebreek nie!

Uit: God is op die Troon, Jannie Hough, Creatix Boeke, 2009. Getuienis deur Ria Griesel.


Indeks     Index