INPAK... |
|
![]() |
|
  |
Ek staan tussen my tasse en leë kartondose en ek moet inpak. Vader, U weet van die nuwe bestemming wat daar op my wag - en dat ek na hierdie geliefde ou oorstaanplekkie op my lewensweg nooit weer gaan terugkeer nie. Ek dank U dat U saam met die meubelwa hier voor my deur, ook 'n spesiale sleepwaentjie vir my geestelike bagasie voorsien het. Want elke artikel wat ek aanraak, stuur my op 'n herinneringstog al hoe dieper in die kelder van my geheue af. Soos flessies inge-maakte vrugte op my spensrak, so staan die dae van my lewe voor my uitgestal. Ek doop my vinger en talm by die soetigheid. Ja, selfs die suur en die bitter pak ek in. Want, wat 'n verrassing! Noudat ek weer daar-by uitkom, merk ek dat al die hartseer in verwerkte vorm op 'n spesiale rakkie in my kelder veredel het. Ek vind die voetspore van hulle wat my weg in al hierdie jare gekruis het. Hulle wat saam met my op die bergtoppe gejubel het, maar my nie agtergelaat het toe ek die kranse moes afklouter en die diepste drif moes deurkruis nie. Al moet ek hulle hier laat agterbly, dank ek U, my Vader, dat niks my kan keer om elkeen in my skatkis van kosbare herinneringe met my saam te neem nie. Ja, selfs hulle wat my reeds vooruitgegaan het, hoef ek nie te verloor nie. Wat is die wydste grense van die ewig-heid tussen mens en mens as ons 'n God het wat weet in watter Hand Hy ons wil vashou en wanneer Hy ons wil oortel na die ander kant? En nou, Here, weet U beter as ek self, dat ek nie op my wa kan klim voordat ek met al my rommel ook voor U kom staan het nie. Soos ek my nuttelose materiële oorskiet bymekaarvee, so wil ek U vra om ook die stof en reste uit die donker hoekies van my binnegedagtes bymekaar te maak. Vergesel my na die ashoop en skud my skoppie leeg. Ek staan tussen my tasse en kartondose en ek het klaar gepak. Vader, U weet van die nuwe bestemming wat daar op my wag. Ek vra U, neem die sleutels van my voertuig. Plaas selfs U hande op die stuur. En Here, voor ek in my haas vergeet: Maak my tog veilig met U gordel vas. Elke kruis
- Oorgeneemtoets die skakels van jou geloofsketting, en elke oorwinning snoer jou hegter aan jou God. |