KIES VANDAG!!

  Talle hedendaagse Christene beleef blykbaar drie stadia in hulle lewens: veroordeling, redding en stagnasie.

Babajare is kosbaar en vreugde-vol, maar as die baba nie opgroei nie, is dit tragies en jammerlik. Die geestelike baba wat nie volwasse word nie, is vir God 'n groot verleentheid.

Dit is God se wil dat ons ryk sal wees aan geestelike volwassenheid. Tensy ons volwasse gelowiges in Christus is, sal ons 'n las wees - kinderagtig en kleingeestig. Ons sal altyd net aandag wil hê en geamuseer wil word. Alles sal altyd om óns en ons eie gemak draai.

Vir 'n hele aantal jare het 'n gemeente in die Suide van Amerika hulle maandelikse gemeentebulletin aan my gestuur. Dit was eintlik pateties. Hulle "vol program" is as "Christelike aktiwiteite" beskou, maar ek sidder om te dink dat weeklikse, gewone skilder- en keramiek-lesse, skaatspartytjies en 'n hele klomp ander stokperdjies wat nie eers deur buiteklubs aangebied word nie, as "Christelik" en "geestelik opbouend" beskou word. So 'n gemeente sal nooit ooit op die duiwel se gevaarlys verskyn nie!

Geen kerkgroep wat kennis dra van geestelike oorlogvoering sal braaivleis of komiese konserte aanbied nie. Daar is werklik 'n worstelstryd aan die gang! Lees Efesiërs 6.

Ek het al vantevore gesê dat gelowiges 'n arrogante groep is wat hulle lewenstyl aanpas by hulle eie weergawe van godsdiens. Ons "glo" net totdat ons dit ongerieflik vind - en dan verdwyn ons geloof in die niet.

Ons weet deur inspirasie en deelname dat Job reg was toe hy gesê het: "Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg" (5:7). Die mens is gebore om keuses te maak, besluite te neem en opsies uit te oefen.

Besluit nou! "Kies julle vandag!" Hierdie Skrifgedeelte waar Josua aan die Israeliete 'n keuse gestel het (Jos. 24:15), is aan ons almal goed bekend. Hulle kon die afgode dien wat hulle vaders oorkant die Eufraat gedien het, of die gode van die Amoriete in wie se land hulle nou geleef het, of hulle kon onwankelbaar saam met Josua staan wat gesê het: "Ek en my huis, ons sal die HERE dien."

Kom ons plaas die klem soos volg: "Kies - vandag"! U het moontlik jare gelede gekies om die Lam van God te volg waar Hy ook al sou lei. Dit is goed en wel. Vandag word ons elkeen egter voor die versoeking gestel om "ander gode" te volg. Ydelheid mag 'n afgod wees - of selfs wedywering. Luiheid kan my meester wees as ek nie daagliks leef met "'n ewigheidsperspektief" nie. Geldgierigheid kan 'n baie verleidelike afgod wees.

Daar kan baie mooiklinkende name daarvoor wees, soos "sukses" of "om vooruit te kom in die lewe". Dít sal 'vandag' van my beroof as ek nie die misleier - Satan - ontmasker nie! 'Vandag' gaan verby en ek sal dit nooit weer beleef nie. Daar bestaan geen mark op aarde waar ek ou dae of gedeeltes van verweerde ou dae kan gaan koop nie. Die dae kom en gaan - of dit goed was of sleg.

In 'n sekere sin is ek meester van my bestemming; kaptein van my siel. Ek mag 'n slaaf van tyd wees, maar daar was nog geen meester wat die gees kon verkneg nie. Ek kan in die tronk wees en tog vry wees. Ek kan kreupel of gestremd wees en tog 'n geestelike atleet wees wat oor hekkies seil waar-oor ander mense struikel en val!

Ek kan VANDAG kies om te bid of nie te bid nie, te vas of nie te vas nie, om mooi dinge oor ander te sê, of hulle te kritiseer. VANDAG kan ek kies om 'n broer se reputasie te beskerm of te skend. VANDAG kan ek kies om God te loof en te dank vir alles wat Hy reeds vir my gedoen het en waarvoor ek miskien nog nooit dankie gesê het nie.

Gister se keuses is verby, môre s'n nog ongebore. VANDAG is die dag!

Uit: In Hemelsnaam Groei ...in Christus, David Ravenhill, VG Uitgewers, 1998.


Indeks     Index