MAAK JULLE REKENING
OP DIE REGTE PLEK OOP


  "Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Dit is dom. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op, en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle 'n bankrekening in die hemel oop, daar by God. Geen dief kan daar inbreek om iets te probeer steel nie. Daar is ook nie inflasie wat julle skatte se waarde kan laat minder word nie. En niks word daar ooit oud nie. God Self pas julle skatte op. So, spring nou dadelik aan die werk. Leef elke dag voluit vir God. Dis die beste belegging wat julle ooit kan maak. Dan is julle kort voor lank hemelse miljoenêrs.

"Daar is twee soorte skatte wat julle kan versamel: hemelse skatte, wat vir altyd hou, of aardse skatte, wat nie vir altyd hou nie. Watter soort maak julle bymekaar? Hier is 'n vinnige toets vir julle om vas te stel:

  • Waaroor praat julle die meeste van die tyd?
  • Waaroor dink julle van vroeg tot laat?
  • En waaroor bekommer julle julle die meeste?

    "Beantwoord hierdie vrae eerlik. Dan het julle die antwoord. Dan weet julle waar julle julle 'rekening' oopgemaak het.

    "As julle hemelse skatte wil opgaar, dan moet julle julle oë nou dadelik deur die Here laat instel sodat julle op die regte manier daarmee kan kyk. Mens se oë is ook soos 'n lig. Die manier waarop jy daarmee na ander mense kyk, kan een van twee dinge in jou lewe tot gevolg hê: dit kan alles in jou lewe pikdonker maak, of dit kan jou lewe helder verlig. Oppas hoe jy na ander mense kyk. Gee jou oë vir God sodat Hy dit op die regte dinge kan instel. Laat Hy jou leer om net na dit te kyk wat Hy wil hê jy moet raaksien. Dan word jou hele lewe verlig sodat jy God grootmaak in alles wat jy doen. Dan is jy nie soos 'n blinde wat gedurig in allerhande sondes vasloop nie.

    "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Julle ook nie. Julle kan nie twee here saam probeer dien nie. Uiteindelik sal julle lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eers probeer om God en die geldgod saam te dien nie. Julle moet 'n keuse maak in wie se diens julle wil staan."

    HOU OP OM JULLE TE KWEL
    "Moenie julle gedurig loop en bekommer nie. Julle kan tog niks aan julle omstandighede veran-der deur dit te doen nie. Mense bekommer hulle gedurig of hulle genoeg gaan hê om van te leef. Moenie soos hulle maak nie. Die lewe gaan tog oor meer as kos en klere. Julle het in elk geval 'n Vader in die hemel wat vir julle alles gee wat julle nodig het om van te lewe. Kyk 'n slag om julle rond. Dan sal julle agterkom hoe Hy vir die hele wêreld sorg.

    "Kyk na die voëls: hulle het nie groot skure waar hulle hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg kos het. Weet julle, julle is baie meer vir Hom werd as al die voëls in die hemel. Daarom kan julle op Hom vertrou om ook vir julle te sorg.

    "Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Gaan kyk gerus 'n bietjie in die veld hoe mooi die blomme lyk. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so te lyk nie. Tog was nie eens die skatryk koning Salomo so mooi aangetrek soos een van hulle nie.

    "As God dan soveel aandag gee aan hoe al die veldblomme lyk - wat die meeste van julle nooit eens raaksien nie - sal Hy mos vir julle ook sorg. Hou op om so kleingelowig te wees! Hou daar-om op om heeltyd te sê: 'Wat gaan ons vandag eet?' of: 'Wat gaan ons vandag aantrek?' As julle dit doen, tree julle net so op soos mense wat God nie ken nie. Ek sê weer: hou dadelik op daarmee! Julle het mos 'n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal ook sorg dat julle dit alles kry.

    "Stel God se koninkryk eerste. Doen alles wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los maar môre se probleme vir môre. Van probleme het elke dag immers genoeg. Leef liewer vandag voluit vir God!"

    (Matteus 6:19-34, Die Boodskap, CUM, 1999, J van der Watt en Stephan Joubert)


  • Indeks     Index