DIE BYBELBOODSKAP WORD UITBASUIN! | |
![]() |
|
  |
'n Nuwe projek van die Blessed Hope Volle Evangelie Kerk in Steenberg bevorder nie net Bybel-lees onder sy lidmate nie, maar help terselfdertyd om geld vir Bybels in te samel. Lede van die Kerk se Reëlingskomitee onder leiding van Gavin Johnson het reeds in 2015 koppe bymekaar gesit en met die idee vorendag gekom om ononder-broke die hele Nuwe Testament voor te lees. 'n Leesskedule is opgestel en op 27 Junie 2015 om 15:00 is die eerste vers van die boek Matteus gelees. Dit het regdeur die nag aangehou en om 09:15 die volgende oggend, net voor die begin van die Oggenddiens, is die laaste paar reëls van Openbaring gelees. Nie eers 'n kragonderbreking kon die projek van stryk bring nie. "Mense het die ligte van hul selfone en kerse gebruik om verder te lees. Ons het luid-sprekers op die balkon gehad wat na die straat gedraai was en almal in die buurt kon luister terwyl die hele Nuwe Testament voorgelees is. Ons het nie 'n enkele klagte gehad nie, selfs nie toe daar tot in die vroeë oggendure gelees is nie," sê pastoor Mark Harris van die gemeente. In 2016 is die projek wéér aangepak met lesers wat kon kies of hulle uit 'n Engelse of Afrikaanse Bybel wou voorlees. Pastoor Mike Roodt van die Bybelgenootskap het by die 65 lidmate aangesluit om ook 'n gedeelte te lees. In 2015 is ongeveer R15 000 met die projek geïn en verlede jaar was die mikpunt R30 000. Met die "read-a-thon" is die mikpunt oorskry! Blessed Hope wil nou meer as ooit sy deel doen om die Bybel-genootskap te help om Bybels vir mense beskikbaar te stel. "Ons dank God wat dit moontlik gemaak het om die bedrag in te samel. Aan Hom alleen kom al die lof toe," sê pastoor Harris. [Die Saaier, Amptelike blad van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Herfs 2017, 021 910 8777]. |