'N NUWE LEWE!



 
Geloof maak baie dinge in ons lewe anders. Trouens, die grootste uitdaging van ons geloofslewe is juis om daagliks vernuwe te word na die Beeld van ons Skepper, sodat Hy deur ons lewe geëer kan word.

Geloof maak van ons mense wat anders as die wêreld is en anders as wêreldlinge lewe. Hierdie verandering beteken egter nie wêreldvermyding nie. Ons moet in hierdie wêreld ander-wêrelds leef en só vir mense 'n venster op die hemel wees - 'n venster waardeur hulle God se liefde en vergifnis kan sien.

Dis ook teenoor die wêreld dat ons die taak het om te getuig van God se wonderdade in ons lewe. Hierdie veranderinge in ons eie lewe gebeur nie onmiddellik of sonder probleme nie. Dis 'n geloofsproses waarin ons sáám met God werk en dit loop uit op 'n lewe wat sigbaar núút word.

God rus ons toe en help ons om nuut te lewe. Gelukkig is die nuwe lewe 'n afhanklike lewe - 'n lewe sáám met God en gedurig in Sy teenwoordigheid.

Uit Hom en deur Sy gawes word dit vir ons moontlik om anders te lewe. Hierdie wete gee vir ons nuwe hoop en nuwe moed wanneer die eise van die nuwe lewe vir ons te groot lyk.

- Met GOD Op Pad! Solly Ozrovech, Maretha Maartens, Murray Janson, Nina Smit, e.a., CUM, 1994.


Indeks     Index