GOD SOEK... | |
![]() |
|
  |
DONKER ONHEILSWOLKE pak al meer en meer saam oor ons samelewing. Vloedgolwe van misdaad en perversiteit rol oor ons heen en sleur ons mee om ons genadeloos teen die rotse van afvalligheid en goddeloosheid tot sandkorrels te vergruis! Verwoed loop die duiwel rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Petrus 5:8). Christen, is jy paraat en opgewasse teen die siele-vyand? Is jy LIG vir hierdie wêreld en SOUT van die aarde? Of het jou lig só dof geword dat jy in die skemerte tuis voel soos die wêreldling? "God deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge" (Jeremia 17:10). Hy, die Allerhoogste, roep ons tot stilstand en nadenke: "Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid..." (Joël 2:12-13). Gryp die verskrikkinge en duister lot van ons dorpe, stede en land jou aan die hart? Luister dan na God se oproep! "En Ek het onder hulle 'n man GESOEK wat 'n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie" (Eségiël 22:30). Mag God ons behoed indien ons nie bereid is om in die bres te staan vir ons dorpe, stede, ons land Suid-Afrika en selfs die hele wêreld nie! Ons versuim sal tot ons eie ondergang lei! Kom elkeen van ons tree elke dag ten minste vir 'n halfuur in vir ons woonplekke en land! "[As] My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My Aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees" (2 Kronieke 7:14). - Huegene Venter |