BID! BID! BID! | |
  |
'n Bekende geestelike leier wat reeds in meer as 100 lande die Woord van God bedien het, het ontdek dat sy 15-jarige dogter gekies het om nie die Here te dien nie. Toe hierdie man van God besef dat sy nie van plan was om haar besluit te verander nie, het hy al sy uitnodigings en afsprake gekanselleer. Hy het hom in sy kamer toegesluit en aan sy vrou opdrag gegee dat niemand hom mag sien nie. Hier het hy met God geworstel. Met "geweld" en gedetermineerdheid het hy die duiwel teëgestaan en by God gepleit vir haar redding. Na 'n ruk wou sy dogter hom sien, maar hy het geweier. Na drie dae het sy voor God opgebreek en by haar ma gepleit om haar pa te roep. Haar keuse was gemaak: sy sou omdraai en het voor God onderneem om geen ander pad as SY pad te loop nie. Hierdie man het geen kompromie gemaak nie en God het hom die begeerte van sy hart gegee. --- oo O oo---
'n Vrou met drie dogters het gesien hoedat haar kinders al hoe verder en verder van God af wegbeweeg en Hom later openlik bespot het. Sy het haar in haar kamer toegesluit en gebid, niemand gesien, en niks geëet nie. Na drie dae het die eerste dogter tot inkeer gekom en na God geroep. Die volgende dag het die tweede dogter haar bekeer en aan die einde van die vyfde dag die laaste een. Die redding van een van haar dogters was vir hierdie vrou nie genoeg nie. Sy het van God al drie se redding gevra en dit van Hom gekry. Sy het haar kragtig ingespan en aanhou bid totdat God haar geantwoord het!- Teen die Gety, Bennie Mostert, CUM, 2008. |