NA DIE VLAMMEVUUR BLOM GOD OPNUUT IN MY HART!



 
Dis ene opgewondenheid want Oupa en Ouma Kaap maak klaar om vir die 'kids' te gaan kuier in Gauteng. Dis nou ons: Dries en Susan van Heerden van Gansbaai. Ons sien die 'kids' minsters twee keer in 'n jaar.

Net voor Kersfees het ons toe op 'n dag, heeldag in die stad by die winkels rondgeloop. As jy van Gansbaai stad toe gaan, is die blink liggies betowerend. So anders... En dis boonop vakansie! Na ete die aand lok die aandweer ons na buite en die kinders nooi ons vir 'n stappie in die aftreekompleks neffens hul. Waarom nie? Kapoet klim sewentig-plussers die aand in die bed. Maar ek kon nie afskakel nie. Slaap, maar slaap ook nie.

Net na twee-uur raak ek bewus van 'n gewoel langs my. "Kan jy ook nie slaap nie?" hoor ek myself praat. Dries mompel 'n vreemdheid en begin onwillekeurige rukbewegings maak. Hy is in 'n sweetbad, gaan in 'n spasma. Suikervlak is laer as laag. Koma. Hospitaalsake. Ek ken die patroon al vir 45 jaar. Hoe kon ons albei vergeet het dat hy 'n diabeet is! Hy moes weer stysel ingeneem het na die baie energie wat hy die vorige dag gebruik het!

Ek spring op met 'n vaste wete dat die Heilige Gees by my is. In my, Hy troos my, beskerm my, tree in vir my. Openbaar Jesus aan my. Ek glo nie net nie, ek ervaar Sy Teenwoordigheid as 'n realiteit in my lewe. Sy krag en liefde mantel my. Tasbare kalmte vul die kamer. Ek het my man in 'n greep, my sig sink in sy dowwe kykers en ek staan op my gesag. My hande omhoog. IN DIE NAAM VAN JESUS! Sy lippe bly op mekaar geklem; tog kry ek die glukose-lekkers wat ek intussen fyngekou het in sy mond wat in sy speeksel oplos.

Geen angs, geen paniek. Geen vrees. Net God se vrede wat alle verstand te bowe gaan... Dit was nie nodig om die 'kids' wakker te maak of die ambulans te ontbied soos die vorige vier kere in meer as veertig jaar nie. By die Kersboom die volgende aand kon ons getuig van Christus wat in ons is en deur ons leef. Ek kon weer eens VERTROUE foutloos spel. Verskillende Bybelstudiegroepe sorg dat ons leer Wie God regtig is. Ons kyk na die Evangelie uit verskillende hoeke. Die kern steek vas: "Christ in me. Hope of glory". Die Heilige Gees bemagtig ons. Dring ons. Ai, ek kan 'n boek skryf... Aan Hom kom toe die lof en eer! Saam verheerlik ons Hom vir WIE HY IS.

Twee weke na Kersfees staan ons in 'n apteek in Krugersdorp toe 'n sms deurkom: Is julle okay? Ek antwoord: Ja! Ons kuier by die 'kids' en dis mos vakansie. En toe: FRANSKRAAL BRAND!!! Die bos voor ons huis is in vlamme! Ons huis is in gevaar! My mooi fynbostuin... Die bome tussen ons en die bure... Alles kan afbrand! Mense stuur video's van pikswart rookwolke wat ons omgewing verswelg.

Verslaentheid druk ons plat toe ons gaan sit, want ons wag mos nog vir ons pille hier in die apteek. Dis toe dat ek ervaar hoe my liggaam op 'n wilsbesluit reageer. Ek weier om te vrees! Jesus is in my... Het Hy dit dan nie reeds soveel keer aan my geopenbaar nie? Dis toe dat my opgetrekte skouerknoppe voelbaar sak. Ons hou mekaar se hande vas. Elkeen weet dat die ander een ook bid. Sonder woorde. Ons Here ken ons harte. Dit word stil in my binne-kop. Stil soos 'n spinwiel se draai stil is...

In die ruimte kom Hy en wys Hy vir my die engel wat in die tuin by ons huis staan. Die engel was omtrent 'n huis en 'n half lank. Ek het haar langs die pilaar waarteen die bougainvillea oprank, gesien. Waar haar voete moes wees, het sy nie grond geraak nie. Sy was lyfloos maar reëel. Haar wit kleed wasig. In die hemel gemaak. Uit die hoek van my oog gewaar ek toe nog 'n hemeling en nader aan die straat net die bewustheid van nog wasige witheid. Toe ek my oë oopmaak, was ek terug in die apteek. Dries praat: "Ek het 'n glaskoepel oor ons huis gesien. Met 'n handvatsel. Die Here bewaar ons huis..."

Skoondogter Stella het later vertel dat sy twee groot hande in haar gees gesien het wat die huis omvou. Sus Ina herInner my aan Dries se laaste woorde toe ons kringetjie gemaak het net voor ons na die 'kids' toe is: "En Here bewaar asseblief ons huis..."

Ons het opgestaan, ons pille gekry en uitgestap. Die SMS'e en oproepe het ingestroom. Ons het kennis geneem. Natuurlik is dit traumaties. Die realiteit kan wreed wees. Alles is mos stukkend op die ou aarde, maar Jesus het gekom om heel te maak, nuut te maak. Daar is krag in 'n kop wat nuut dink, wat glo in die eenheid van ons Vader met Sy eie kinders. Jesus leef nou in my, dwarsdeur my! Dit gaan nie oor my en my gemak nie. Dit gaan oor Hom!

Natuurlik was dit 'n skok toe ons tuiskom. 'n Aangename skok, want die vuur kon nie verby die engele kom nie! Niks moes eintlik oorgebly het nie... Die wind is immers tydens die brand op 104 km/h geregistreer. Hein, 'n selvriend, het met sy kaal hande water uit 'n kan die lug ingegooi in 'n poging om die brandende motorafdak te red. Dit terwyl hy niks voor hom kon sien nie en in die rook gestik het!

Ons huis is ongedeerd! Net die geute het begin smelt van die hitte. Als om ons is as. Die twee-verdieping-hoë heining tussen ons en die bure is lelik verbrand. Dit voel of my privaatheid van my weggevlam is. O, die mure wat ons tussen ons bou...

Die berg is kaal. Rou. Van die bome voor ons in die bos het net swart krulstokke oorgebly. Stokke wat in hul gestrooptheid boontoe beur. Soos ons mense wat almal deur hierdie ervaring is. Binne-in ons huis trap jy in as. Jy hap as, jy hoes as. Vir lank ruik jy net nog as.

Dis nou 'n maand na die brand. Die melkhout in die tuin toon reeds botseltjies in sy stam. Ek treur nie meer oor wat ek verloor het nie, maar verheug my daarin dat my kleinkinders se kinders eendag in die nuwe boom se koelte sal kan speel. Laat ons vir mekaar koelte maak soos ons Liewe Here eens vir ons kruiskoelte gemaak het.

Ek was gedring om iets wat in my diepste binneste ontvlam het, op doek te sit. In my oorgroeide fynbos-voortuin het Dries 20 jaar gelede 'n kruis van 'sleeper'-hout geplant. Deur die jare heen het die kruis egter toegegroei. Met die brand het al die plante geskroei, maar die kruishout het bly lewe!

Dankie, Here, dat die kruis nie gebrand het nie! Dit herinner my aan die pad wat U vir my geloop het, dat ek in die gees saam met U gesterf het en sedertdien 'n nuwe mens in U is. Mag ek dit nóóit vergeet nie. Ek wil net weer opnuut my binnehart vir U wys. Dankie vir 'n nuwe lewe. 'n Nuwe begin. Nuwe geleenthede waar U liefde in my kan vlamvat om sodoende lig te maak vir een en almal wat voortaan my pad kruis. Na die vlammevuur, soos met enige ander verlies, blom U opnuut bloedrooi in my hart, net soos die speke-blom in die Overberg na die brand...

- Susan van Heerden, 082 823 4872





Indeks     Index