GEBED AS WAPEN



 
Die duiwel het nie 'n antwoord op die gelowige gebed van Christene nie. In tye van vervolging en nood bly gebed nog altyd die magtigste wapen! Christene in lande agter die Ystergordyn ervaar dit daagliks.

Georgi Vins, die kerkleier wat uit Rusland verban is, het by sy aankoms in die VSA daarvan getuig. "As die vyandige wagte vir ons sonder rede beter as ander behandel het in die gevangenis, het ons geweet dit is te danke aan die voorbidding van vriende in die Weste," het hy gesê.

Die Ugandese predikant, Musoke, het ook daarvan getuig. Toe hy gearresteer is, het sy gemeente voortdurend vir hom gebid. Die berig van sy arrestasie het ons by Operasie Mobilisasie nog dieselfde dag bereik. Ons het dadelik 'n aantal gebedsvriende gebel en oral het Christene bymekaar gekom om vir hom te bid.

Die Here het hul gebede op 'n wonderbaarlike wyse verhoor! Musoke is na die berugte gevangenis, Nakasero, in Kampala gebring. Honderde mense is daar op 'n gruwelike manier doodgemaak. Baie is met 'n voorhamer vermoor. Hulle moes daar neerkniel en is herhaaldelik op die kop geslaan totdat hulle gesterf het.

Musoke is in die onderaardse gevangenis in die dodesel toegesluit. Hy het tot aan sy enkels in die water, gemeng met urine en die bloed van vorige slagoffers, gestaan. Die stank was ondraaglik! Toe die deur agter hom toegesluit word, het hy alleen agtergebly in die donker gat. Vrees het hom aangegryp en in sy nood het hy tot die Here geroep: "O Here, help my tog! Ek is nie bang om te sterf nie, maar ek is bang vir die lyding. Laat die soldate tog dadelik kom om my dood te maak, en laat die lyding asseblief kort wees."

Die Heilige Gees het hom getroos en hom aan Paulus en Silas in die gevangenis van Filippi herinner. Musoke het begin om deur sy trane heen die Here te loof en te prys. Die wagte wat buitekant gestaan het, het hom gehoor en gedink dat hy van sy verstand af geraak het. Hulle het die seldeur oopgemaak, hom na buite gesleep en na die Gevangeniskommandant geneem.

Hy het Musoke verbaas aangekyk: "Wat makeer jou?" Musoke het sy hande opgehef en opnuut die Here God begin loof en prys. "Julle kan my maar gerus doodslaan," het hy uitgeroep. "Ek sal aanhou om die Here te loof!" En hy het ook aangehou om dit te doen...

Die Kommandant kyk na Museko en skup sy kop. "Totaal gek! Laat hom maar huis toe gaan om daar te sterf." 'n Paar minute later staan Museko buitekant - volkome VRY!

Hy hardloop huis toe waar tientalle Christene op hul knieë was, besig om vir hom te bid! Toe hulle hom sien, het hulle hom omhels. Trane van blydskap het oor hul wange gestroom. Hulle het hul hande opgehef en die Here begin loof en prys! "Daar is krag in voorbidding en lofprysing," het 'n stralende Museko later aan my gesê.

"Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag" (Jakobus 5:16b). Hierdie krag is altyd tot ons beskikking. Sowel in tye van nood as in tye van vryheid. Gebed oorbrug elke afstand - tussen God en ons - maar ook tussen ons en die lydende Kerk.

[Paraat vir die Eindstryd, Jan Pit, Geopende Deure,1986].





Indeks     Index