GENESING ONDER SY VLEUELS | |
![]() |
|
  |
Toe my kinders nog kleuters was, was dit 'n plesier om hulle dop te hou wanneer hulle speel en hulle meegevoer word deur hul kinderfantasieë. Maar o wee, wat 'n tranedal wanneer 'n speelgoedkarretjie breek! Dan word die karretjie na Pa gebring, want Pa maak mos alles reg! Só gaan dit ook wanneer enige ander item in die huis breek: 'n Vaas wat stukkend val, toerusting wat onklaar raak, 'n glas wat omval en die heerlike koeldrank of melk wat op die vloer spat! Alles moet reggemaak of skoongemaak word. En dit kos nog somtyds geld ook om die gebreekte ding reg te maak of die skade te herstel. In die grootmenswêreld is gebroke verhoudinge as gevolg van ontrouheid, onwaarhede, of woorde van haat en nyd, gebroke beloftes en seermaak-handelinge ver groter as 'n stukkende speelding of 'n gebreekte glas! Hierdie teleurstellings slaan diep wonde en bring pyn wat nie maklik heel word nie. Maar die grootste en mees tragiese pyn is 'n stukkende verhouding met God! Die wonderlike en kosbare waarheid is egter dat HƯ getrou bly en altyd gereed is om te vergewe en te genees! In Maleági 4:2 lees ons: "Maar vir julle wat My Naam vrees, sal die Son van Geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder Sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal." Ongeveer 536 - 430 voor Christus het die volk Israel, die Suidelike Koninkryk, pas uit ballingskap teruggekeer na Jerusalem. God se profete Haggai, Sagaría en Maleági moes hulle vermaan en bystaan, maar ook verkwik uit God se Woord. Die volk was egter steeds in 'n geestelik vervalle toestand en God moes hulle deur Sy profete ernstig vermaan. Sewentig jaar van ballingskap was verby, en die volgende geslagte moes nou voortgaan om in verhouding met God te staan. Die priester Esra, deur wie die Priesterorde en die Wet herstel is, asook Nehemía wat die muur om Jerusalem herstel het, is deur God gebruik om die volk uit hul geestelike verval terug te bring. God het reeds in hoofstuk 3 tot 4 in Maleági gemeld dat Hy die ongehoorsames gaan straf, maar in hoofstuk 4 gaan Hy voort om die omstandighede te skets van die aanbreek van die Messias-tydperk. Wanneer Jesus sou verskyn, sou dit die hoogtepunt van God se belofte van verlossing en genesing wees! Elkeen wat gebroke is, kan dus nou weer moed skep. God het Jesus nie gestuur om jou te veroordeel en te verdoem nie, maar om jou deur genade te kom red! Al is jy ver van God verwyder, al het jy in sonde verval en voel jy dikwels dat daar geen hoop of genade meer vir jou is nie - skep moed deur jou hoop in Jesus Christus te plaas. Hy sê immers: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig" (Matt. 11:28-30). Die Skrifgedeelte in Maleági 4:2 laat ons besef dat Jesus Christus, die langverwagte Messias, genesing en herstel gebring het vir die nasies! Maar wat sluit dit alles in? Die HERE het goeie nuus vir dié wat Hom vrees. Hy sê reeds in die vorige hoofstuk: "Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor Sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en Sy Naam eer. En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos 'n man medelye het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie" (Mal. 3:16-18). Die HERE se seën begin by "julle wat My Naam vrees." Wat beteken dit om Hom te vrees? Die Amplified Bible begin só: "But for you who fear My name [with awe-filled reverence]..." Dit beteken om eerbied vir God te hê en Hom te dien deur jou lewe aan Hom oor te gee. Hulle wat kan bely: "Ek is 'n kind van God!" (Joh. 1:12). En ook: "Die Gees Self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word" (Rom. 8:16-17). Liewe leser, het jy al by hierdie beginpunt van Sy seëninge gekom? Het jy al jou lewe geheel en al aan Jesus oorgegee? Dan volg ons teks van oordenking met verdere seëninge vir "dié wat Hom vrees": Vir hulle "sal die Son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder Sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal." Die begrip "genesing" is 'n veelomvattende begrip. Die Hebreeuse woord is marpe, wat beteken herstel tot genesing ("restoration"), gesondheid, 'n geneesmiddel, kuur, medisyne, kalmte, bedaardheid, sielsrus, bevryding - selfs van die invloede van bose magte. Hierdie woord is verwant aan die Hebreeuse woord rapha wat beteken om te genees, heel te maak, of te repareer. Reeds in Exodus 15:26 het God gesê: "As jy getrou na die Stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in Sy oë, en luister na Sy gebooie en al Sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak." In Hebreeus is Sy Naam hier: Ek is Jahweh Rapha. God maak die hele mens gesond! Gees, siel, liggaam, emosies, innerlike pyn, smarte, lyding, en alles wat satan as die gevolg van die sondeval op die mens kan lê. So staan dit geskryf in Ps. 41:4 - "Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is." En in Ps. 147:3 - "Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde." Hier genees God die mens wat gesondig het, sowel as die gebrokene van hart. In ons teksvers word melding gemaak van die Messias (Christus) as "die Son van Geregtigheid" wat "opgaan." Hierdie "Son" gaan op met Sy strale wat uitgaan oor die hele aarde. Vanuit elkeen van hierdie ligstrale vloei die totaliteit van genesing vir élkeen wat glo en dit van Hom vra. Jesus het na 'n stukkende, gebroke wêreld gekom om heel te maak. Hy is die laaste Adam wat kom heelmaak het. Die eerste Adam het deur die sondeval die mens van God verwyder en die ganse mensdom in sonde, pyn en lyding gedompel. In die Lewende Bybel staan dit só opgeteken: "Dit was deur die een mens Adam dat die sonde in die wêreld gekom het, en die gevolg van die sonde was die dood. Daarom moet alle mense sterwe want almal het sonde gedoen." En verder: "Ons kan sê een sonde het alle mense skuldig gemaak, maar ons kan ook sê dat een daad van gehoorsaamheid alle mense se skuld weggeneem het en aan hulle die lewe gee. Dit is so dat baie mense sondaars geword het deur die ongehoorsaamheid van een mens, maar dit is ook so dat baie mense in die regte verhouding met God gebring word deur die gehoorsaamheid van 'n ander Mens" (Rom. 5:12, 18, 19). Die smarte van die dood was nie net fisies nie, maar dit is 'n wye begrip van verwydering van God. Daarteenoor het Jesus ons kom roep om onder Sy vleuels te skuil, want daar is genesing onder Sy vleuels. Sy genesing is nie net bevryding van fisiese siektes nie, maar ook van geestelike siektes. Sal jy jou VANDAG aan Jesus oorgee om die totaliteit van Sy genesing deelagtig te word? Handelinge 2:21 verklaar: "En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." Kom, en word gered van sonde, siekte, ellende, smarte, innerlike pyn. HY WIL JOU VOLKOME GENEES! © Dr. J J Venter |