WIE IS GOD DAT EK HOM MOET GEHOORSAAM? | |
  |
Party Christene is soos die selfversekerde farao wat by Moses wou weet: "Wie is die Here na wie se stem ek moet luister?" (Eksodus 5:2). Baie gelowiges vra dieselfde vraag, of gee deur hulle houding te kenne dat hulle wil weet Wie God dan nou eintlik is dat Sy kinders Hom moet gehoorsaam. Dis waarom die Kerk vandag met soveel probleme sit: dis as gevolg van onkunde, gebrekkige dissipelskap en "halwe" gehoorsaamheid. Al die jare van passiwiteit en onverskillige kompromieë het hul tol begin eis. Die Kerk praat al die eeue van gehoorsaamheid, maar sit vandag met die wrange vrugte van ongehoorsaamheid. Die Kansas City Chiefs van die VSA het 'n groot aanhang onder voetballiefhebbers. Sommige mense raak só opgewonde as dit by hulle span kom, dat hulle géén moeite, tyd of onkoste ontsien om alles van hulle helde af te weet nie. Hulle ken al die nuutste stories en kan elke wedstryd tot in die fynste detail beskryf. Gelowiges wat nie met dieselfde toewyding daarna strewe om alles van God af te weet nie, sal uiteindelik verveeld raak met "godsdiens". Want hulle oppervlakkige insig kan nooit hulle verbeelding aangryp nie en kan daarom ook nie die vuur in hulle harte aansteek nie! Daarom is dit só belangrik dat die Kerk die onvergelyklike heerlikheid van God moet sien, ken en ontdek! 'n Mens wat die hart van God in al sy volheid en heiligheid gesien het, sal nóóit weer kompromieë met die sonde kan aangaan nie en sal tot 'n heilige passie vir God aangevuur word. Die mens wat Jesus intiem en persoonlik ken, sal te alle tye aan Hom gehoorsaam wil wees. Géén mens wat 'n intieme verhouding met Jesus het, sal ooit met Hóm verveeld kan raak nie. Die kern van Jesus se bediening was om die Naam van God bekend te maak - dis hoe Hy dit Self beskryf het. En dit is my doel om mense te laat verstaan dat 'n bediening meer behels as dit wat in vergaderings gebeur, meer as voorbidding, of goeie raad. Ek glo ook dat enige bediening daarop gefundeer moet wees om God aan ander bekend te maak, en ek glo dat 'n mens dit doen deur jou kennis van God só duidelik uit jou lewe te laat spreek dat almal dit sal sien. Daar is krag in hierdie "soet geur" van God se Teenwoordigheid in 'n mens se lewe. Dit verhef jou lewe tot 'n hoër vlak of dimensie. Dit laat jou hart sag word, sodat jy méér liefde betoon, makliker vergewe en meer deernis met ander sal hê. Jy leer ook om meer sensitief vir die Gees van God te wees, en om méér soos Jesus te word! Om geestelik volwasse te kan word, móét jy die Vader intiem leer ken. Daarom is die openbaring van Sy Teenwoordigheid en Sy heerlikheid onlosmaaklik deel van elke gelowige se lewe, sy bediening en taak op aarde. Om waarlik 'n volwasse Christen te kan wees, moet jy 'n "spesiale tyd met God" hê waarvan ander mense nie bewus is nie. Elkeen wat in gebed met Hom verkeer, Sy Woord bestudeer en oordink en hom afsonder om die wonder van Sy heerlikheid te ontdek, sal uiteindelik self die Beeld van Christus aan die wêreld uitdra. 'n Dieper gebedslewe lei onvermydelik tot 'n meer volwasse geestelike lewe en bediening. En as ek praat van 'n "dieper gebedslewe," bedoel ek nie net dat jy meer tyd aan gebed moet afstaan nie. Om langer te bid, beteken nie noodwendig dat jy met die regte gesindheid bid nie. Nee, jou hart moet reg wees. Jy moet jouself volkome oopstel vir God, uitreik na Hom en sensitief wees vir Hom, byna soos 'n blom wat sy gesiggie na die son toe draai om sy lig en warmte te absorbeer. Daar is 'n ontsettende behoefte en nood in die Kerk om hierdie kwaliteit opnuut te ontdek. Ons as gelowiges moet terugkeer na Jesus se fokus op die bediening. Ons moet ons ten doel stel om God se heerlikheid aan die wêreld te openbaar, en Sy Naam bekend te maak! [Uittreksels uit: My Vader, My Vriend!, Mike Bickle, VG Uitgewers, Springs, 1994]. |