JAAG DIE ROOFVOËLS WEG!
  Toe God met Abraham ‘n verbond gesluit het, het hy aan Hom ‘n offer gebring (Gen. 15:1-21). Dit het behels dat hy, op voorskrif van die HERE, die diere in twee verdeel het en op God gewag het om met hom te ontmoet. Hy het tot die aand toe gewag. "Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abraham het hulle weggejaag" (vs. 11). Hierdie roofvoëls is gereken onder die onrein diere. Hy het sy offer beskerm wat vir die Here bedoel was deur die onrein voëls weg te jaag. "En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abraham ‘n verbond gesluit..." (vs.17,18). Dit beteken dat die Here Abraham verhoor, en sy offer aanvaar het. Soos in die geval van Abraham, word daar ook van elke gelowige verwag om ‘n offer aan God te bring. Dit sal altyd ‘n duur prys kos om Jesus te volg. Jou lewenspad mag moontlik met dorings besaai wees. Wrede vervolging kan jou in die gesig staar. Om Hom te volg, kan selfs jou lewe kos! Die offers wat jy vir Hom bring, sal altyd deur Satan teëgestaan word, omdat hy nie wil hê dat jou lewe aan God ‘n welgevallige offer moet wees nie (Rom. 12:1-2). Daarom moet ons elke offer wat Hy van ons vra, beskerm teen ‘n roofsugtige vyand. ONS MOET DIE ROOFVOËLS WEGJAAG! Die roofvoëls word gestuur deur die mens se sielevyand. Hy wil struikelblokke in ons weg plaas om ons lam te lê, sodat ons nie uitvoering kan gee aan ons taak en roeping nie. Ons moet altyd daarvan bewus bly dat ‘n offer aan God ‘n prys kos. Daarom moet ons die vyand, die onrein roofvoëls, in die Naam van Jesus konfronteer en wegjaag! Ons mág nie ons offers aan God aan die vyand prysgee nie! Ons móét daaroor waak! Ons mag nie toelaat dat die roofvoëls ons beroof of ons offer verontreinig voordat dit by God uitkom nie. Beskerm dít wat jy aan God offer, wat jou ‘n prys kos, met alles wat jy het. Dit behoort aan die Here. Dit is ‘n offer vir Hom!

Indeks     Index