VERTROU OP DIE HERE!
  "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie" (Spr. 3:5 NV). Here, ek lê hierdie dag met al sy eise in U hande en ek vertrou op U vir seën en voorspoed. Daar is niemand wat kan help soos U nie, vir die magtiges sowel as die kragtelose. Ek steun op U en in u Naam gaan ek hierdie dag tegemoet. In my gesin is U aan die hoof, Here, en ons buig onder u wil. Hoe dikwels het U gehelp toe ons in die stryd na U geroep het en U het ons verhoor omdat ons op U vertrou het.
U is my toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. U vou my toe met u vlerke, en onder u vleuels skuil ek. Dankie dat U vrees en angs van my afweer en siektes van my gesin af weghou, want U is ons beskutting, Allerhoogste God.
Ek bid dat die Engel van die Here ‘n laer rondom ons sal trek en ons uit elke benoudheid sal red. Omdat ek U liefhet, sal U tot my redding kom en U sal my beskerm omdat ek u Naam ken. Wanneer ek na U roep, verhoor U my en in my nood is U altyd by my.
"In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag..." (Jes. 30:15 OV) [Uit: Dankie Ma omdat jy spesiaal is... deur Helen du Plessis Aktuapers 2003].

Indeks     Index