DIE LAASTE AVONDMAAL | |
  |
Dit is 'n skildery van Jesus met Sy dissipels aan tafel besig met die Nagmaal. Hy het dit teen die muur van die eetsaal van die Dominikaanse klooster in Milaan geskilder. Die skildery het 21 jaar geneem om te voltooi.
Da Vinci het vir elkeen van daardie persone op die skildery 'n lewende model gebruik, iemand wat daar gesit en poseer het. Toe kom hy by die middelste persoon in die skildery, dié van Jesus Christus en hy soek amper 'n jaar lank na 'n geskikte persoon. Eendag in die strate van Napels loop hy 'n jongman raak. Toe hy hom sien, weet hy, dis die man. Hy versoek hom om te kom sodat hy hom kon skilder. Nege jaar later, kom hy by die laaste figuur, Judas Iskariot, die verraaier, die leuenaar, die dief. Hy soek byna 'n jaar en 'n half na die regte persoon. Eendag, in die agterstrate van Rome, gooi hy 'n muntstuk in 'n bedelaar se hand. Toe hy opkyk, weet hy dit is die man - hy sien die bedrog, die leuens, die verbittering op sy gesig. Hy sê: "Luister, ek betaal jou as jy vir my sal poseer. Ek moet iemand skilder." Die bedelaar het geld nodig gehad en daarom willig hy in. Nadat Da Vinci klaar geskilder het, draai hy om en sê: "Hierdie skildery gaan een van die grootstes wees. Stem jy saam?" Die jongman kyk nie eens op nie… Toe sê Da Vinci: "Haai, ek praat met jou! Ek sê hierdie gaan een van die bekendste skilderye ooit in die geskiedenis wees." Nog kyk die jongman nie op nie. Uiteindelik slaag Da Vinci daarin om hom te laat opkyk, en sien hy hoe rol daar trane oor die jongman se wange. "En nou? Hoekom huil jy?" Die man sê: "Meneer Da Vnci, weet u wie ek is? Ek is dieselfde jongman wat 9 jaar gelede vir jou geposeer het toe jy Jesus geskilder het. Dieselfde mens, maar as gevolg van 'n grief wat ek teenoor 'n naaste familielid in my hart gedra het, a.g.v. wat hy aan my gedoen het, het my voorkoms so verander dat jy my gebruik het om Judas ook te skilder." Griewe maak ons stadig maar seker van binne dood. Maak vrede met elkeen teen wie jy 'n grief dra. Gebed: "Here, help my om my naaste te vergewe soos u my vergewe het." |