GEBROKE... | |
  |
Ek sal NOOIT die tyd vergeet toe God my gebreek het nie. Ek was nog net 'n paar jaar in die bediening as predikant van 'n groot Presbiteriaanse kerk, maar het bedank. Ek het natuurlik verwag dat ek weer net so 'n groot gemeente sou kry, maar dit het nie gebeur nie. Ek het in baie kerke gepreek, maar het nooit 'n beroep gekry nie. Na sendingsale het ek my gewend, maar niemand wou my hê nie. Ek was in 'n finansiële krisis en was raadop. Op 'n dag het Paul Rader na Toronto gekom om 'n groot veldtog te hou. Ek het aansoek gedoen om as plekaanwyser op te tree, maar is spoedig weggewys. Toe het ek persoonlike werk probeer doen, maar wéér is ek geïgnoreer. Eindelik het ek liederebundels in die paadjies begin verkoop. My hart was gebreek. Ek het nie geweet waarheen om my te wend nie. Dit het gelyk asof ek aan die einde van my bediening gekom het. Ek het gevoel dat God my nie meer kon gebruik nie. Ek was desperaat. Een aand het Paul Rader se sangleier, Arthur McKee, skielik aangekondig dat hy die groot gehoor sou lei in die sing van 'n nuwe lied wat so pas die lig gesien het, nl. "Gered". En toe, voor die groot vergadering van 3 400 mense, wys hy met sy vinger na waar ek besig was om liederebundels te verkoop, en sê: "Daardie jongman het hierdie lied geskryf." Ek het nie geweet waar om te kyk nie en het maar voortgegaan om liederebundels te verkoop. Toe het die gehoor begin sing. Ek sal dit nooit vergeet nie! Dit was die eerste keer dat die lied wat ek geskryf het, gesing is. In later jare sou ek dit dikwels hoor. Toe ek daardie aand huis toe gaan, het God met my gepraat. In my hart het daar 'n oortuiging gekom dat die Here my weer sal gebruik om Sy Woord te bedien. Onverwags ontvang ek eendag 'n kabelgram uit Londen. Ek is gevra om 'n paar Sondae in die wêreldberoemde "Spurgeon Tabernakel" te kom preek en het dadelik ingewillig. Daarna was ek nooit weer sonder 'n gemeente nie. Ek moes talle beroepe van die hand wys. Later het daar vir my 'n groot deur in "The People's Church" in Toronto oopgegaan. Dit was nie lank nie of ek het oral in die wêreld gereis om die Evangelie te verkondig. Maar u sien, ek moes gebreek word. God het geweet dat ek hoogmoedig en ambisieus was. Dus kon Hy my nie gebruik nie. Hy was verplig om my laag op my knieë te bring deur alles van my weg te neem, en eers toe ek niks in myself was, gebreek aan Sy voete, kon Hy my weer vertrou en tot Sy verheerliking gebruik. (Oswald Smith) |