7 GENADEJARE | |
  |
Onverdiende, oorvloedige genade! Sewe jaar gelede moes ons 'n keuse maak. Om ‘ja’ of ‘nee’ te sê vir God se opdrag om 'n Christelike koerant die lig te laat sien. Sonder enige fondse tot ons beskikking en met veel vrees en bewing het ons as gesin onsself tot beskikking van God gestel. En Hy het ons nie 'n enkele dag begewe of verlaat nie, maar ons dag na dag gedra! Op 7 Maart 1998 het 'n persoon die Stem van God gehoorsaam en aan ons die nodige rekenaartoerusting ten bedrae van byna R12 000 geskenk! Hierna het nog twee persone aan ons R5 000 geskenk vir verdere programmatuur. Alles in antwoord op volhardende gebed! Gedurende April 1998 het die eerste beskeie uitgawe van "Goeie Nuus"/"Good News" die lig gesien. Dit het ons voltydse strewe en bediening geword om die Blye Boodskap van Jesus Christus uit te dra. Tienduisend eksemplare is van huis tot huis in Potchefstroom versprei met die bede dat die inhoud mense sal aanspoor om hulle lewens opnuut aan God toe te wy, hulle te bemoedig en te versterk sodat hulle met volharding die geestelike wedloop kan voltooi. Presies 'n jaar later het die Here ons opgeroep om ook na Klerksdorp uit te brei. Die oplaag het vermeerder na 22 000 eksemplare per maand. Stilfontein en Hartbeesfontein was volgende aan die beurt en gedurende Mei 2000 is reeds 27 000 koerante gratis van huis tot huis versprei. 5 Junie 2001 was 'n verdere hoogtepunt in die bestaan van "Goeie Nuus"/"Good News" toe ook na Orkney uitgebrei is. Sedert daardie dag is maandeliks 'n oplaag van 31 000 koerante van huis tot huis versprei in die POTCH/KOSH-area. In gehoorsaamheid aan die Here se Stem versprei ons vanaf April 2004 die "Goeie Nuus" ook gratis van huis tot huis in Parys. Die Here is só getrou! Na 6˝ jaar (Des. 2004) het Hy weer eens iemand opgewek om aan ons twee nuwe rekenaars te skenk! Ons kon ook ‘n nuwe drukker en aftaster koop. "Goeie Nuus"/"Good News" is 'n nie-winsgewende, onafhanklike, interkerklike gesins-bediening. Ons poog om alle ware gelowiges, ongeag Kerkverband, te bedien en ook om die Blye Boodskap aan almal wat dit nog nie gehoor of hulle eie gemaak het nie, oor te dra. Die koerant se gratis verspreiding word moontlik gemaak deur advertensies en blymoedige gewers wat gehoorsaam is aan die Stem van God. Ons glo dat die Here elkeen sal beloon wat daartoe meehelp dat hierdie koerant maan-deliks aan ongeveer 132 000 lesers beskikbaar gestel kan word. Hy, die goeie Gewer, se seëninge en barmhartighede is elke dag nuut en ons bede is dat u elkeen dit daagliks sal ondervind! Dikwels gebeur dit nog - soos ook met hierdie Gedenkuitgawe - dat ons "op die water moet loop" om "Goeie Nuus"/"Good News" die lig te laat sien, maar ons bring aan God al die eer wat getrou is en ons nog nooit in die steek gelaat het nie! Daarom is dit met groot jubeling dat ons kan getuig dat ons sedert April 1998 reeds 2 237 000 koerante gratis versprei het! Diegene wat na aan ons leef en bewus is van ons omstandighede, kan saam met ons net in alle ootmoed sê: Dit is NET die HERE wat dit kon bewerkstellig! Ons kan met groot blydskap getuig dat ons gedurende die afgelope 7 jaar baie getuienisse ontvang het van mense wat hulle lewens aan die Here oorgegee het, bemoedig is, weerhou is van selfmoordpogings, beter toegerus is vir hulle lewenstaak, en opgeroep is tot groter toewyding aan die Here. Dáárvoor is ons die Here opreg dankbaar! "Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by Wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, want die Here is die magtige God, die groot Koning oor al die gode. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!" (Ps. 95:1-3,6 NV). Liewe vriende, lesers en adverteerders: "Ons bid dat Christus deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon, en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle Sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God" (Efesiërs 3:16-19 NV). - Redaksie |